Mache (met geel) word ondersteun deur haar kêrel se suster, Julia Isaacs, terwyl sy van hul laaste gesprek vertel. Foto: Murphy Roberts


Pella en Chatworth is in rou gedompel – drie van die bemanning, wat steeds vermis word nadat die visserskuit MFV Lepanto verlede week gesink het, is van hier.

“Ons glo hy gaan onverwags hier instap,” vertel die ma van Johnwill Isaacs (26) van Chatworth – een van die 11 bemanningslede wat steeds vermis word.

Die boot met 20 bemanningslede het net buite Houtbaai in die moeilikheid beland voordat dit gesink het. Nege van die skippers is gered.

Lena Isaacs (69), Johnwill se ma, sê sy het geen woorde nie en weet nie wat om te dink nie– veral nie of haar jongste nog lewe nie. Met trane wat vlak lê vertel sy hy is haar broodwinner.

Volgens Mache Hendricks, Johnwill se meisie en ma van hul nege maande oue baba, is hy Maandagoggend van die huis af werk toe. “Ons was verbaas toe hy weer die middag by die huis opdaag omdat die boot volgens hom ’n meganiese probleem gehad het,” vertel sy.

“Hy is Dinsdagoggend weer weg en het my gereeld op hoogte gehou. Hulle het weer op see omgedraai met ’n meganiese probleem en is eers Donderdag uiteindelik see toe.

LEES OOK: ‘Hoekom is die soektog so gou afgelas?’ vra familie

“Ons het nog die oggend wat die boot gesink het, gepraat, maar dit was die laaste wat ek van hom gehoor het,” vertel sy terwyl sy hul kleintjie hartseer vashou.

“Ons het eers die middag tussen drieuur en vieruur gehoor die boot het gesink. Ons het reeds ons toekoms saam beplan,” vertel sy emosioneel.

Volgens Lena hoop sy net dat sy haar kind sal kan begrawe, want die onsekerheid vreet aan almal.

Sy het ook gal gebraak omdat Sea Harvest glo nie hul woord teenoor haar familie gehou het nie. “Ons moes self by die Kaapse hawe uitkom.”

Sy voel hulle verdien beter behandeling.

Die families van die twee ander drenkelinge van Pella wou nie met Weskus Nuus praat nie. Die koerant het vertroulik verneem een was die skipper van die boot.

Volgens Anthea Abraham van Sea Harvest kan hulle ongelukkig weens die Popi-wet nie baie besonderhede oor die vermistes bekend maak nie. Abraham sê dit is ’n baie traumatiese ervaring vir almal en die maatskappy het kontak gemaak met die familielid soos aangedui deur die werknemer.

“Die familie het ons meegedeel geen oproep is deur enige direkte familielid van die vermiste Johnwill ontvang nie. Hulle het egter bevestig hulle is wel oor Donderdag se gebeure in kennis gestel en opgelaai.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article