Sterk winde het Vrydagaand 25 Oktober ’n ou boom ontwortel en op een van die dorp se oudste kleuterskole se dak te lande gekom.
Lubron-kleuterskool, wat in die Hartebeeskraal se Thusong-sentrum is, het groot skade gely toe die massiewe boom deur die dak geval het. Volgens die skoolhoof, Felicity Lambert, het sy omstreeks 20:00 ’n oproep van ’n ouer gekry dat die boom op die dak lê.
Nadat ek verskeie oproepe gemaak het, het Allister Lightburn, proporsionele raadslid, hom na die toneel gehaas om die span by te staan. “Die skool wat tans 58 kinders het, sal noodgedwonge verskuif moet word aangesien die gebou heeltemal onveilig is,” sê Lightburn.
Die raadslid het die verskillende departemente van die stad gebel om die skool dringende bystand te verleen. Dit is tans onseker waar die kinders sal gaan, maar Lightburn sê hy het met die wyksraadslid Barbara Rass gepraat dat leerders dalk na die sentrum verskuif kan word omdat die kinders se veiligheid belangrik is.





