Malusi Booi, die burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersetting en ’n voormalige proporsionele raadslid vir wyk 32, is enkele dae ná sy uitlatings oor die sogenaamde “konstruksiemafia” geskors.


“Ons gaan nie met terroriste onderhandel nie.”

Só het Malusi Booi, die burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersetting en ’n voormalige proporsionele raadslid vir wyk 32, tydens die amptelike begin van die Kanonkop- fase twee-behuisingsprojek gesê. Booi, wat met dié woorde ’n duidelike boodskap aan die sogenaamde konstruksiemafia gegee het, is Donderdag 16 Maart enkele dae ná sy uitlatings geskors nadat sy kantoor die vorige dag deur die polisie deursoek is en skootrekenaars, selfone en dokumente afgeneem is.

Die klopjag op Booi en ander amptenare se kantore hou vermoedelik verband met tenderbedrog en korrupsie van behuisingsprojekte in die Stad Kaapstad.

Niemand is in hegtenis geneem nie.

Die Kaapstadse burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het Booi se skorsing bevestig en gesê hy probeer meer inligting by die polisie kry. Hill-Lewis het in ’n verklaring gesê hy beskou die klopjag in ’n ernstige lig en moet die integriteit van sy regering beskerm.

Volgens die burgemeester het die polisie gesê die ondersoek is nog in ’n baie vroeë stadium, maar word in ’n ernstige lig beskou, en geen inligting sal nou bekend gemaak word nie.

Hy sê voorts Booi is summier geskors en sy pos sal intussen deur James Vos, die burgemeesterskomiteelid vir ekonomie, gevul word.

Hill-Lewis het in sy verklaring gesê hy belowe die Stad Kaapstad sal sy volle samewerking aan die polisie gee omdat die stadsraad ’n benadering van geen verdraagsaamheid tot bedrog en korrupsie het.

Suzette Little van die GOOD-party het in ’n verklaring gesê hulle verwelkom die burgemeester se besluit om Booi te skors.

Little meen die rooi ligte het reeds begin flikker toe verskeie opposisiepartye in die Stad Kaapstad se raad die werkswyse van die behuisingsdepartement bevraagteken het. Sy sê voorts die burgemeester moet antwoorde gee oor presies wat die klagtes is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article