Hulle is reeds sedert kinderdae vriende, het alles saam gedoen, verjaar kort na mekaar en was onafskeidbaar – en het ook saam in ’n koeëlreën gesterf.
Latzio Baron (19) en sy boesemvriend, Denzario Snyman, ook 19, is Saterdagaand (6 Mei) in ’n koeëlreën dood toe onbekende mans op hulle losgebrand het. Volgens ’n familielid van Baron was Latzio in die huis besig om ’n fliek op te sit toe hy net sê hy “kom nou weer”. Hy was skaars buite toe die skote klap.
Sy familie het glo uitgehardloop terwyl die aanvallers steeds op die twee geskiet het. Een van die skieters het bo-oor Denzario gestaan en aangehou skiet voordat hulle in ’n wagtende motor gespring het, vertel die familie.
Volgens sers. Wesley Twigg, ’n polisiewoordvoerder, is die twee op die toneel aan hul skietwonde dood. Twee klagtes van moord word ondersoek.
Twigg het bevestig geen verdagtes is in die stadium aangekeer nie.
Die voorval wat, Saterdagaand kort voor 22:00 in Dianastraat, Saxonsea, plaasgevind het, het die familie met min antwoorde gelaat. Volgens hulle is dit asof of die skieters vir Latzio gewag het.
“Ons het sy foon deurgegaan om te kyk of hy dalk gebel is of ’n boodskap gekry het om gou uit te kom, maar daar was niks,” sê hulle. Die boesemvriende, wat uiters gewild was, was ook baie beskeie, vertel die familie. Hulle het vriende gereeld met lekker kos trakteer.
“Hulle was nie juis engeltjies, maar bendelede was hulle gewis nie. Ons weet nie of dit uit jaloesie was of wat tot die voorval dat hulle soos diere doodgeskiet is, aanleiding gegee het nie,” vertel ’n familielid emosioneel.
Latzio, die jongste van drie seuns, was baie presies en het daarvan gehou om aan te trek wat dalk “seer oë vir ander” was, vertel die familie.
Denzario was soos ’n kind in die Baron-huis en was meer daar as by sy eie huis. “Hy het byna elke aand hier geslaap en was die noodlottige aand ook hier en het buite gestaan.”
Volgens omstanders is meer as 40 skote op die twee geskiet. Dit is nog onbekend hoeveel skote die twee getref het.
Latzio se beenmurg, vel, bloed en ooglede is geskenk om ander se lewens te red. Hy is Saterdag veras. Denzario word vandeesweek ter ruste gelê.


