Onskuldige bloed bevlek weer die strate van Atlantis nadat ’n tweede slagoffer slegs ’n week uitmekaar aan die hand van bendegeweld gesterf het.
In die jongste voorval is die 25-jarige Sheanwill Baardman Saterdagaand (22 Junie) doodgeskiet. Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, is Baardman drie keer in die kop geskiet en het op die toneel aan sy wonde beswyk.
Volgens ’n betroubare bron is Baardman, “wat nie ’n vlieg kon seermaak nie”, vermoedelik vir iemand anders aangesien. Die oorledene is voor sy huis geskiet.
Volgens Munro was die skietery om 23:00 in Figilantestraat, Saxon Sea, en geen verdagtes is nog aangekeer nie.
Die 20-jarige Misand van Der Brook is verlede week in Robinvale vermoor nadat hy vermoedelik familielede besoek het.
Volgens Munro is die oorledene een keer tussen die kop en nek geskiet en is na die hospitaal geneem, waar hy later beswyk het. Volgens ’n betroubare bron is die oorledene gesteek toe hy hom teen skurke wat hom wou beroof, verset het en hulle het hom toe geskiet. Die oorledene was op pad huis toe in Proteapark toe hy aangeval is.




