Sers. Wilmot Isaacs, die ondersoekbeampte, verlaat die hof Dinsdag 7 April nadat die saak tot die volgende dag uitgestel is.Foto: Murphy Roberts


’n Fotograaf, dokter en lesbiese vrou.

Dít is slegs van die “rolle” wat ’n 46-jarige man op sosiale media gespeel het wanneer hy niksvermoedende slagoffers genader het, gekry het om naakfoto’s of video’s op te neem en aan hom te stuur en dit later as afpersmateriaal teen hulle te gebruik voor hy hulle na bewering gedwing het om met hom seks te hê.

Dié getroude pa van Mamre staar nou strafregte­like klagtes in die gesig wat strek van verkragting, statutêre verkragting en die besit en verspreiding van kinderpornografie.

Die verdagte se modus operandi

Volgens ’n betroubare polisiebron, wat vertroud is met die saak, strek die klagtes reeds van 2017 en meeste van sy slagoffers is op sosiale media geteiken.

Die bron het aan Weskus Nuus vertel die verdagte het ’n “siek speletjie met sy slagoffers gespeel” en dat van die beweerde misdrywe selfs by sy werkplek plaasgevind het.

Volgens die bron was die verdagte se eerste slagoffer ’n 15-jarige meisie met ’n droom om ’n model te word. Die ver­dag­te het glo die meisie help fiks bly en dit tot sy voordeel gebruik.

“Die verdagte het hom aan­lyn as ’n modelagent voorge­doen en voorgestel dat die fiksheidsinstrukteur foto’s van haar neem. Die slagoffer moes ook naakfoto’s aan die agent verskaf wat ook deur die verdagte geneem is, glo by sy werkplek,” vertel die bron.

Die agent het daarna voorge­stel dat sy moet bewys dat sy volwasse genoeg is deur seks met haar fotograaf te hê. Die slagoffer het egter na ’n tyd geknak en uiteindelik met die hele sak patats vorendag gekom.

’n Tweede slagoffer was glo een van die verdagte se ge­troude kollegas. Hy het hom­self aanlyn as ’n dokter voorgedoen.

Die verdagte het op ’n dag die kollega gevra om sy penis te ondersoek omdat hy glo dringend sy dokter moes raadpleeg.

Terwyl die vrou gehelp het, het die verdagte blykbaar ’n foto sonder haar medewete geneem. Dié foto is toe later deur die “dokter” gebruik om haar af te pers.

Die dokter het haar op sosiale media laat weet hy gaan die foto aan haar man stuur as sy nie seks met die verdagte gaan hê nie.

Die verdagte het glo toe video’s opgeneem van die interaksies en dié inligting gebruik om die vrou verder af te pers.

“Die vrou moes glo haar minderjarige dogter aan hom ‘uitlewer’ en video’s maak waar die dogter haarself betas asook naakfoto’s aan die ‘dokter’ verskaf.”

Die vrou het later ontdek dat die “dokter” wat haar aanlyn teister en haar kollega dieselfde persoon is.

In nóg ’n voorval het die verdagte homself as ’n lesbiese meisie aanlyn voorgedoen en naakfoto’s aan sy slagoffer gestuur om sodoende haar vertroue te wen sodat sy naakfoto’s terugstuur.

Dié foto’s is later as afpersmateriaal gebruik en die foppersoon het dan geëis dat sy met die verdagte seks het anders word die foto’s op sosiale media versprei.

Saak weer vandag voor

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n provinsiale polisiewoordvoer­der, het die klagte teen die verdagte bevestig.

“Die 46-jarige verdagte, wat getroud is en self die pa van kinders is, is op 25 Maart by sy werk aangekeer en die polisie het op sy persoonlike rekenaar en sy werksrekenaar beslag gelê.”

Die man het verlede week Dinsdag en Woensdag in die hof verskyn om aansoek te doen om borgtog, wat deur die staat teengestaan word.

Sy borgtogaansoek is tot vandag (Dinsdag 14 April) uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article