Geslags- en gesinsgeweld is volgens kenners die tweede pandemie in Suid-Afrika.
Weslander, susterkoerant van Weskus Nuus, het onlangs met die aspirant-staatsaanklaer Davern Cloete (24) gesels oor die regte van diegene wat onder geslags- en gesinsgeweld deurloop.
Volgens Cloete weet talle vroue reeds van beskermingsbevele.
Twee wette kan mense in situasies van huishoudelike geweld help.
Die eerste is die Wet op Gesinsgeweld, Wet 116 van 1998, asook die Wet op Beskerming teen teistering, Wet 17 van 2011.
“Klaers kom in baie gevalle direk na die hof sonder om eers die polisie te kontak. Die polisie kan onmiddellik help. Soms doen klaers aansoek om ’n beskermingsbevel, maar hulle besef nie hulle kan ook ’n strafregtelike klag teen iemand aanmeld nie.”
Cloete sê die Wet op Gesinsgeweld geld in gevalle waar die gevaar iemand na aan die slagoffer is. Dit kan ’n eggenoot, familielid of vriend wees.
Die Wet op Beskerming teen Teistering is in gevalle waar iemand in gevaar is van bure, kennisse of selfs iemand wat nie aan die slagoffer bekend is nie.
“In die meeste gevalle wat ek in my tyd by die Vredenburg-hof gesien het, is die aansoek om ’n bevel gewoonlik teen ’n familielid of iemand na aan die slagoffer. Dit is belangrik vir die aansoeker om die proses te verstaan,” benadruk hy.
In die aansoekproses vir albei kan ’n tussentydse bevel uitgereik word wat onmiddellik van krag sal wees.
“ ’n Landdros sal bepaal of die geval van só ’n aard is dat die aansoeker se lewe in onmiddellike gevaar is.
“Dit word dus in die geval van die Wet op Beskerming teen Teistering voor die permanente bevel of kennisgewing uitgereik.”
Aansoeke kan ook namens slagoffers gebring word in gevalle waar ’n wesenlike verband tussen die aansoeker en slagoffer bestaan.
Ouers kan ook aansoek doen dat kinders deel van die beskermingsbevel vorm.
“Aansoekers moet ook onthou dié twee dokumente geld reg oor die land. Daarom, as jy dalk verhuis en die respondent jou volg, het jy steeds beskerming teen so iemand en die situasie,” verduidelik Cloete.
Respondente wat die bevel of kennisgewing verontagsaam, kan ’n boete of tronkstraf opgelê word.
Nader jou naaste polisiekantoor of hof om meer oor jou regte uit te vind.





