Sy het as ’n held gesterf nadat sy eers seker gemaak haar ses maande oue baba is veilig en wou haar ouma en bedlêende oupa gaan red toe digte rook haar oorval het, vertel die familie van Shanique Green (20).
Die Green-familie van Protea Park in Atlantis is erg ge-traumatiseerd nadat drie familielede dood en een op lewensondersteunende masjien in die hospitaal lê. Benewens die verlies aan lewe het die familie ook alles behalwe die klere aan hul lyf verloor.
“Ons is dankbaar dat hulle nie baie gely en ’n vlammedood gesterf het, wat baie pyn en lyding sou veroorsaak het nie,” sê die familie.
Almal is blykbaar aan rookinaseming dood aangesien hulle buiten David nie baie ernstige brandwonde opgedoen het nie.
Familielede wat die tragedie oorleef het, is steeds stomgeslaan oor die onverklaarbare manier waarop die brand begin het pas nadat die krag ná twee ure beurtkrag in die gebied weer aangegaan het, vertel hulle.
Shanique, haar ouma, Susan Green (66), en oom, David Green (42), is dood toe hulle vermoedelik deur die digte rook oorval is.
“Ek weet nie of my pa (Gordon) dit gaan maak nie aangesien hy tans op lewensondersteunende masjiene is, maar hy raak elke dag ’n bietjie sterker,” sê Charles Green (48).
Volgens Charles het hulle Donderdagaand gaan slaap en hy het die ligte na 22:00 afgeskakel. “Ek weet nie wat die brand veroorsaak het nie, maar die krag het 02:00 afgegaan tot 04:00. Kort daarna was ons huis in ligte laaie,” vertel hy.
“Ek het wakkergeskrik van die gille en besef die huis brand. Ek het onmiddellik my 70-jarige oom en seun (19), wat by my in die kamer slaap, na veiligheid geneem,” sê Charles. “Die huis was donker van die rook en ek het buite omgegaan en my suster se kamer se diefwering probeer oopbreek sodat sy, Shanique en die baba kon uitklim, maar ons kon dit nie heeltemal oopbreek nie en kon net die baba uitkry terwyl my suster deur die digte rook na veiligheid gestrompel het.”
Volgens Charles het sy jonger broer, wat in die sitkamer geslaap het, ook probeer ontsnap, maar sy liggaam is naby hul ouers gekry.
Die familie het aan Weskus Nuus gewys hoe hulle die ouerpaar se kamer se diefwering probeer oopbreek het, maar dit was alles tevergeefs en Shanique is naby die badkamer gekry nadat die vlamme geblus is.
“Ons kon almal uit die huis kry, maar my broer en ma was reeds oorlede en mediese personeel het moedig probeer om Shanique aan die lewe te hou,” vertel hy. “Inwoners in die straat het nie gehuiwer om ons te help om almal te probeer red nie. Die brandweer was ook redelik gou op die toneel.”
Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, is die polisie ontbied en met hul aankoms was die brandweer reeds besig om die vlamme te blus. Volgens Munro word die oorsaak van die brand ondersoek.


