Skurke eis nou “protection money” van die kontrakteur. Foto: Murphy Roberts


Die “mafia” het sy visier op Atlantis en die eerste ernstige voorval is onlangs aangemeld.

Volgens Grand Twigg, die burgemeesterskomiteelid vir afvalbestuur, is werkers van ’n kontrakteur aan wie die vuilisverwyderingkontrak toegestaan is, deur vier goedgeklede mans op die Vogelvlei-plaas genader.

Die mans het die werkers meegedeel dat geen vragmotor die plaas gaan verlaat voordat hulle nie eers met die eienaar gepraat het nie.

Volgens ’n betroubare bron was die vier mans met vuurwapens gewapen en hulle het aggressief voorgekom. Die bron het verder gesê die mans het glo hul “miljoen rand protection money” geëis en daarop aangedring dat die werkers die eienaar moet bel, maar hulle kon hom nie telefonies bereik nie.

Die voorval, vroegoggend op 27 Februarie, het as ’n groot skok vir die werkers gekom. Volgens een van die werkers, wat nie genoem wil word nie, het dié “mafia” ook self probeer om die eienaar op te spoor – sonder enige sukses. Hulle het gedreig dat wat verlede jaar in Brown Farms naby Phillipi gebeur het, ook hier sal gebeur.

In die een voorval verlede jaar by Browns Farm is een werker van ’n kontrakteur, wat ook vuilisverwydering doen, gewond nadat mans ook “protection money” geëis en op ’n vragmotor losgebrand het.

Weskus Nuus het vertroulik verneem ’n prominente leier van Witsand is reeds verlede jaar genader om teen vergoeding van R12 000 per maand inligting oor ondernemings in die gebied aan die skurke te voorsien en ook toestemming aan hulle verleen om in die omgewing te werk. Die leier het egter die aanbod verwerp en gesê hy is nie ’n misdadiger nie.

Volgens Twigg is die Stad tans in gesprek met verskeie veiligheidsmaatskappye vir bystand as dit benodig word. Hy sê dienste gaan voort soos gewoonlik en bevestig plaaslike wetstoepassers hou tans ’n wakende oog en patrolleer die gebied gereeld.

Volgens die raadslid Moosa Raise verhinder inwoners ook nou die kontrakteur om hul werk te doen. Volgens Raise is werkers in uitbreiding 12 gedreig om geld en kosbare besittings te oorhandig. Die vragmotor is ook in die rooftog deur die skurke beskadig, het Raise bevestig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article