Dis eksamentyd . . .
Leerders in die streek is tans hard besig met die Junie-eksamen.
Ter voorbereiding hiervan het WeskusNuus by Studiemetodes (www.studiemetodes.co.za) gaan kers opsteek:
1. Beplan jou tyd:
Wanneer jy baie werk het en jy skryf amper elke dag ’n vak, kan dit moeilik wees om tyd vir al jou leerwerk te kry. Teen eksamentyd moet jou opsommings reeds gedoen wees. Eksamentyd is daar vir hersien en herhaal. Wanneer jy jou eksamenrooster en afbakening kry, moet jy gaan sit en ’n leerrooster uitwerk. As jy nie seker is hoe om ’n leerrooster uit te werk nie, woon ’n Studiemetodes-werksessie by, waar jy al die tegnieke leer oor hoe om reg te leer.
2. Sorteer jou leerplek uit:
Dit is belangrik dat jy op ’n stil plek leer en dat jy genoeg ruimte het om al jou boeke en opsommings voor jou oop te slaan. Plaas jou witbord langs jou sodat jy die werk kan hersien en herhaal. Kinetiese leerders moet onthou om beweging toe te pas terwyl hulle leer. Maak seker niks in jou leerruimte kan jou aandag aftrek nie.
3. Skryf terwyl jy leer:
Maak seker jy het genoeg kleurpenne en highlighters gebruik wanneer jy vir die eksamen leer. Net soos jy die werk hardop moet leer, moet jy dit ook neerskryf. Gebruik jou opsommings en skryf jou werk oor en oor sodat jy dit makliker kan onthou.
4. Oefen met ou vraestelle:
Wanneer jy jou tydsbeplanning doen, maak seker dat jy tyd inruim om ou vraestelle uit te werk. Hierdeur leer jy hoe die onderwysers die vrae vra en oefen jy om dit wat jy gememoriseer het, op papier uit te lê.
5. Verduidelik dit wat jy geleer het aan iemand anders:
Dis moeilik om iets te verduidelik as jy dit nie ken en verstaan nie. Werk deur jou leermateriaal, en wanneer jy voel jy ken dit goed genoeg, verduidelik dit aan iemand anders. Jy kan dit selfs vir jou teddiebere verduidelik. Die punt is om te kyk of jy die werk verstaan en dit wat jy geleer het, kan weergee.
6. Werk in ’n studiegroep:
Dit is soms goed om in ’n studiegroep te werk sodat jy kan sien of jy die werk verstaan en dit kan bespreek. Elkeen van die lede van die studiegroep moet vooraf die werk op hul eie leer en dan saamkom om dit te bespreek. Julle kan ook saam deur ou vraestelle werk.
7. Rus genoeg:
Moenie te lank aanmekaar leer nie. Leer 45 minute op ’n keer op die meeste en rus vir 15 minute. As jy te lank aanmekaar leer, sal jou brein nie alles kan onthou nie. Wanneer jy ’n ruskans geniet, probeer iets aktiefs doen sodat jou brein genoeg suurstof kan kry.
8. Eet gesond:
Jou brein het gesonde kos nodig om behoorlik te werk en die werk behoorlik te memoriseer. Hou dus die gemorskos en lekkergoed vir die vakansie en eet liewer gesonde kos tydens eksamentyd. As jy kos eet wat jou bloedsuiker opjaag, gaan jy moeg en tam voel.
9. Drink baie water:
Gedurende eksamentyd kan ’n mens gou moeg voel en na kafeïen of energiedrankies gryp. Sulke drankies kan jou dalk vir ’n oomblik wakker laat voel, maar die moegheid gaan gou weer terugkom. Probeer liewer meer water drink.
10. Op die dag van die eksamen, wees voorbereid:
Niks is erger as om in die eksamenlokaal te sit en agter te kom jou pen werk nie, of jy het jou sakrekenaar vergeet nie. Die aand voor die eksamen moet jy seker wees jou pen werk en ook ander penne inpak om op terug te val. Afhangende van die vak wat jy skryf, maak seker jy het alles wat jy nodig het. Moenie die oggend van die eksamendag rondhardloop op soek na iets wat jy nodig het nie. Dit gaan net spanning op jou plaas. . Stuur ’n e-pos-navraag na info@studiemetodes.co.za vir nog inligting of wenke.




