Cameron Swartz (23) is Woensdagoggend op pad werk toe vinnig by ’n spazawinkel in toe hy van agter geskiet is. Foto: Murphy Roberts


Bendegeweld is besig om die Atlantis-gemeenskap keelvol te maak ná nog ’n sinnelose moord op ’n 23-jarige man.

Cameron Swartz van Paragonstraat is Woensdag omstreeks 06:30 in ’n spazawinkel van agter geskiet nadat hy iets wou koop op pad werk toe.

Volgens omstanders op die toneel in Penelopestraat, was Swartz reeds in die winkel toe die skieters hom van agter twee keer in die kop geskiet het. Omstanders vertel twee verdagtes het te voet van die toneel gevlug.

Kapt. FC van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig ’n klag van moord word ondersoek en sê die oorledene het op die toneel aan sy wonde beswyk.

Atlantis is die afgelope tyd deur verskeie moorde geruk, veral op onskuldiges en die gemeenskap is besig om in opstand te kom. Gemeenskapslede het onlangs saamgekom om die Atlantis Community Action Group Against Gangsters and Drugs (ACAGAD) te stig. Lede van dié organisasie meen dit is nou die tyd dat inwoners hul strate terugeis.

“Ons is nie ’n vigilante groep wat geweld aanhits nie,” het een van die stigterslede, wat om veiligheidsredes anoniem wil bly, aan Weskus Nuus gesê. “Ons is hiér om ons strate terug te eis, om bendegeweld te stop deur elemente in samewerking met die regstelsel te verwyder,” meen dié groep.

“Bendebase- en lede sal nou verantwoordelik gehou word vir hul optrede en die gemeenskap beplan om in hul hordes na bendelede se huise op te ruk.” Ouers, familielede en geliefdes wat misdrywe verberg en borgtog betaal, sal moet ophou.

“Ons het ’n reg om ’n vreedsame lewe te lei, maar ons lewe in vrees en word gevange gehou deur ’n handjievol bendelede.”

Dié groep het Saterdag tydens hul eerste saamtrek belowe dat straatkomitees, meer buurtwagte vir gebiede wat deur hulle as brandpunte geïdentifiseer is, gestig gaan word. Die groep se FB-blad gons behoorlik van ondersteuning en inwoners is dit eens dat as hulle die koronavirus kan beveg, kan bendes ook beveg word.

Een inwoner het aan Weskus Nuus gesê hy is bereid om met sy lewe te boet net om sy kinders se toekoms in Atlantis te verseker.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article