Die erg geskokte familie moes die deur plankie vir plankie aanmekaartimmer nadat vermeende bendelede dit oopgebreek het. Foto: Verskaf


Hulle gee nie om wie seerkry nie . . .

Só vertel ’n erg getraumatiseerde paartjie van Sherwoodpark nadat vermeende bendelede hul huis verlede Saterdag 18 September bestorm het.

Volgens die 63-jarige man, wat nie geïdentifiseer wou word nie, was sy 55-jarige gestremde vrou alleen tuis toe die voorval gebeur het.

Die vrou vertel: “Ek het tussen 10:00 en 11:00 gesien mans spring oor my muur en het aan my deur gehamer en skree ek moet ‘die f****n deur oopmaak’, glo omdat daar ’n skieter binne is.

“Ek het verduidelik hier is niemand nie, maar hulle het die ruite begin uitgooi en gesê hulle maak my dood as ek nie die deur oopmaak nie.

“Ek het maar sukkel-sukkel kamer toe gegaan en die deur gesluit terwyl die skurke aan my agterdeur begin kap het,” vertel sy, “Hulle het my agterdeur flenters getrap en ingekom om die ‘skieter’ te soek.”

Die vrou het toe in haar kamer weggekruip terwyl sy familie probeer bel het.

“Ek was vreesbevange in my kamer en het gewag vir die skurke om my kamerdeur ook oop te breek, maar hulle het na die wendyhuis agter in die erf gegaan en dié mense met vuurwapens gedreig as hulle nie sê waar die skieter is nie,” vertel sy.

“Ons het geen idee wie die mans is nie, omdat ons nie bekend is met bendes nie. Ek moes maar die deur plankie vir plankie aanmekaartimmer sodat ons veilig kon wees,” vertel die man.

Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, is Lizario Douglas (24) van Uitbreiding 12, vroeër dieselfde dag doodgeskiet.

Die oorledene is sewe keer op die hoek van Deerlodgestraat en Elklaan geskiet en het op die toneel aan sy wonde beswyk.

Volgens Munro het drie verdagtes te voet van die toneel af gevlug.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article