Inwoners van Lantana-, Larskspur-, Lilac- en Ameliastraat in Protea Park sê hulle is keelvol vir bendelede wat hulle terroriseer.
Dié groep inwoners het Maandagaand 19 Oktober voor ’n bendelid – wat húlle glo die rede is vir die bendebedrywighede in die gebied – se huis bymekaargekom om hul misnoeë uit te spreek.
Volgens die ongeveer 50 inwoners is hulle keelvol vir die ene Gamat en sy makkers wat senior burgers en jong kinders intimideer en aanrand.
“Ons moet verduidelik wie ons gaste is as mense kom kuier,” vertel van die inwoners en sê sedert die bendelid hom twee jaar gelede daar kom vestig het, word daar nou gereeld geskiet en voel hulle glad nie meer veilig nie.
“Ons kinders word gedwing om by sy bende-aktiwiteite betrokke te raak en ons het nou genoeg gehad.”
Inwoners, wat nie geïdentifiseer wou word nie, sê ná ’n vorige betoging is die organiseerders “aangerand en geïntimideer” wat hulle toe afgeskrik het. Een inwoner vertel uit persoonlike ervaring hoe daar ’n vuurwapen in sy gesig gedruk is. Dié voorval is by die polisie aangemeld en verskeie klagtes word glo teen die bendelid ondersoek.
Inwoners is van mening dat dié klagtes nie weer teruggetrek gaan word nie.
“Hy moet skoert!”
Die inwoners het ook ’n petisie onderteken wat aan die polisie oorhandig is waarin hulle vra dat die bendelid uit hul eens rustige gebied verwyder moet word.
Volgens die waarnemende stasiebevelvoerder, lt.kol. Delven Matroos, is dit die regte ding wat inwoners doen om hul kinders teen die euwel van bendegeweld te beskerm. Kapt. Liza Munro, Atlantis-polisiewoordvoerder, het die klagtes teen die bendelid bevestig.
Inwoners het Donderdag 22 Oktober weer voor die hof met plakkate bymekaargekom en teen borgtog vir die bendelid betoog.
Hy verskyn weer 2 November en bly in aanhouding.
Volgens die proporsionele raadslid, Joseph Witbooi wat die groep ondersteun, is dit belangrik dat die gemeenskap die besluit geneem het om hul strate terug te neem.
Lede van die Saxonsea-buurtwag gaan ook nou die inwoners help om hul eie buurtwag op die been te bring.




