Hy het groot drome gehad en sou volgende jaar in Amerika aan ’n sokkerkompetisie gaan deelneem. Atlantis het nie net nog ’n slagoffer van bendegeweld verloor nie, maar ook ’n jongman met ’n blink toekoms op die sokkerveld.
Dehaino Bester (15), ’n gr. 9-leerder aan die Hoërskool Proteus Tegnies, is verlede Saterdag (2 November) in uitbreiding 13 nie ver van sy woning af nie koelbloedig doodgeskiet.
Bester het op dié noodlottige dag Jomo’s Power AFC (JPAFC) se o.15-sokkerspan in Strandfontein in ’n Cape Town City FC Dream Club 100-uitspeelwedstryd tot ’n oorwinning van 4-2 gelei nadat die wedstryd aanvanklik met 0-0 gelykop geëindig het. Hy het ook een van die wendoele aangeteken.
Terwyl huldeblyke van oral instroom vir dié gewilde leerder en sokkerster, wat ook op sosiale media baie gewild was, is sy familie steeds stom oor sy onverwagte dood.
Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, is een mens aangekeer, maar sy sê dit is die bestuurder van die wegkommotor. Munro het ook bevestig dat die 15-jarige sokker-ster geen bande met bendes gehad het nie, maar in ’n bendegeteisterde gebied gewoon het.
WeskusNuus het vertroulik verneem Bester se dood is dalk uit wraak gepleeg. Volgens die bron is hy vermoor omdat ’n voormalige spanmaat en kennis van hom aangekeer is vir ’n moord in die gebied dae voordat Bester vermoor is. Die talentvolle sokkerspeler het sy ma die aand voor sy dood gevra om sy trui te was omdat hy die volgende dag weer moes gaan speel. Hy het gesê hy gaan net gou ’n draai by ’n 21ste verjaarsdagviering maak en kom dan huis toe. Bester is op pad uit geskiet en het op die toneel aan sy wonde beswyk terwyl die skieter in ’n motor van die toneel af gevlug het.
Bester is Vrydag tydens ’n gedenkdiens geloof vir die rolmodel wat hy was en leierskap wat hy op die veld aan sy spanmaats getoon het. Sy span- en klasmaats kon nie uitgepraat raak oor sy energie nie en het vertel hy was alom bekend vir sy grappies.
Bester se dood het die aandag weer op bendegeweld gevestig. Volgens Munro is die skieter steeds op vrye voet.





