Bendegeweld het die afgelope naweek die lewe van drie mense in twee afsonderlike voorvalle geëis.
Die eerste voorval het Vrydagaand in Mamre plaasgevind toe Fredwin Solomons (27) in Thornlaan in die kop geskiet is.
Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, is Solomons met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar. Janine Jordaan, die oorledene se ma, sê hy was vroeër by die huis om te vra dat sy sy klere kan stryk, want hy wou die volgende dag na sy neef se begrafnis gaan.
“Hy het nog vroeër die aand saam met sy pa na die winkel gestap, waarna hy na sy hokkie in die bos, waar hy en sy meisie gewoon het, gegaan het,” vertel Jordaan hartseer. “Ons weet glad nie hoekom hy geskiet is nie, maar ons het op die toneel gehoor dat die skoot nie vir hom bedoel was nie, maar wel vir iemand wat saam hom gestap het,” sê sy.
Die polisie ondersoek ook ’n dubbele moord nadat twee mans Saterdagnag geskiet is.
Volgens Munro is twee mans in Palmerlaan, Avondale, in ’n huis geskiet. Een is op die toneel dood terwyl die ander met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar is.
Niemand is nog in enige van die voorvalle in hegtenis geneem nie.
Die polisie het ook ’n 14-jarige Saterdagaand aangekeer weens die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen. ’n Groep mans het na bewering ’n man met ’n haelgeweer aangerand en gevlug. Die polisie het ’n groep mans in Hobbylaan, Robinvale, om ’n vuur sien sit en gaan ondersoek instel toe een opgestaan en na ’n boom gestap het.
Die polisie het op die haelgeweer afgekom, met bloed wat aan die slagoffer behoort, bevestig Munro.


