Amptenare van die Stad Kaapstad bring die eerste fase se ligte op die Grafkelder aan.Foto: Verskaf


Na samesprekings tussen die Pella-gemeenskap en die Stad Kaapstad se afdeling vir sport en ontspanning om die verbetering van die Pella-sportterrein te bespreek, is die langverwagte doelwit verwesenlik.

Die rugbygemeenskap in Pella, in samewerking met die Young Hearts-rugbyklub, het groot opgewondenheid uitgespreek oor die onlangse aanbring van moderne spreiligte by die bekende sportkompleks bekend as die Grafkelder. Met die oorname van die geskiedkundige Pella- Morawiese sportterrein deur die Stad Kaapstad het sport in Pella verbeter met die samewerking tussen die gemeenskap en die Stad Kaapstad.

Hierdie vordering verteenwoordig ’n beduidende stap vorentoe vir die Young Hearts-rugbyklub en die gemeenskap, met die doel om Pella-inwoners te voorsien van geriewe op gelyke voet met buurdorpe.

Met die toets van die twee spreiligte Donderdagaand (4 Julie) om 18:45 deur die Stad Kaapstad se elektrisiteits­voorsienings­afdeling was rugbyspelers en beamptes in Pella beïndruk met die vermoë van die beligting. Solminic Josephs, voorsitter van Young Hearts, het die uitdagings erken wat tydens die aanvanklike opgraderingsfase ondervind is, veral met betrekking tot die beligting aan die westekant van die veld.

Volgens Allister Lightburn, ’n wyksraadslid vir die gebied, is die finansiering deur sy wyktoelaag gedoen.

Volgens Lightburn sal die res van die beligting spoedig afgehandel word. Hy sê ses sitplekgeriewe word ook beplan en nog uitdagings bestaan wat die hoof gebied sal word.

Die verbeterde fasiliteite sal die Young Hearts-rugbyklub in staat stel om aandoefeninge te hou en moontlik aandwedstryde aan te bied sodra die finale fase voltooi is.

Josephs beklemtoon die belangrikheid van die verbetering van toeganklikheid en gerief in die veld tot voordeel van ’n wyer verskeidenheid sportsoorte in die gemeenskap.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article