Beleggers en verteenwoordigers van verskillende lande het Vrydag 18 Oktober die Atlantis Spesiale Ekonomiese Sone (SES) besoek met die oog op komende sakegeleenthede.
James Vos, Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede, was deel van die groep hooggeplaastes wat die besoekers ontvang het.
Cynthia Clayton, subraadvoorsitter, het met haar verwelkoming die gaste verseker Atlantis is meer as gereed vir die toestroom van geleenthede wat die SES sal bring.
Vrese oor misdaad is ook bespreek met Clayton, wat ná premier Alan Winde se jongste misdaadbekampingsplan waar 3 000 wetstoepassers deur die Kaapse Stadsraad aangestel sal word, verwys.
Sy het ook gesê paaie binne SES word tans opgegradeer wat beteken plaaslike infrastruktuur sal gereed wees vir die komende projekte.
Vrae oor die beskikbaarheid van opgeleide arbeid is genoem, maar ook vinnig in die kiem gesmoor met die versekering dat Serebi tans besig is met tegniese opleiding.
Die Stad, een van die hoofrolspelers van SES, het verseker dat nóg opleidingsprogramme beskikbaar sal wees.
Gaste was blykbaar ingenome met al die beloftes, maar het steeds nie al hul planne bekend gemaak nie. Dié groep was wel beïndruk met die vordering van die projek wat beteken hulle sal nie lank moet wag vir die oprigting van hul persele nie.
Clayton het die groep na afloop van die vergadering op ’n toer deur die gebied geneem en beskikbare grond aan beleggers uitgewys wat baie belanggestel het in die nuwe verwikkelinge.


