Dit is ’n bewys dat negatiewe dinge in positiewe dinge omgeskep kan word.
Só het Grant Twigg, die burgemeesterskomiteelid vir stedelike afvalbestuur gesê oor wat drie bejaarde inwoners die afgelope jaar met hul tuinprojek vermag het.
Twigg het onlangs die drie senior burgers se tuinprojek in Dura besoek en kon nie uitgepraat raak oor wat hulle alles sonder enige bystand reggekry het nie. Twigg, wat ook gereedskap en ander hulpmiddels aan die mans oorhandig het, sê as drie seniors dit kon dien, “verbeel julle wat ons saam kan doen as meer mense by sulke projekte betrokke raak”.
Twigg het die drie gevra om voort te gaan met die goeie werk waarmee hulle besig is en het die subraad-1-voorsitter Allister Lightburn gevra om die groep te ondersteun. Volgens Lightburn is hy baie beïndruk met die drie se werk en het belowe om die moontlikheid vir ’n stuk grond wat van die hoek van Kentucky tot by die berugte Dura-kruising strek, te ondersoek sodat die drie hul tuin kan uitbrei.
Volgens James Witboy (77) het alles een oggend begin terwyl hy by die bushalte gesit het. “Ek het die Maandagoggend 17 April verlede jaar so na die gebied gekyk wat eens mooi geplavei was, maar dit is stukkie vir stukkie deur die tikkoppe weggedra,” vertel hy.
“Die stukkie veld was nou net ’n vaal stukkie grond en mense het later hul rommel daar begin gooi en dit is waar ek besluit het om ’n verskil te maak,” vertel hy.
“Ek het sonder enige gereedskap en met ’n geleende graaf en hark begin om die vaal grond te verwerk,” vertel dié pensioentrekker van Eagles Nest. Gerald Grey (72) en Henry Soldaat (71) het ook nader gestaan en saam het die span die grond begin omdolwe. William Grey (55) het ook later nader gestaan om die drie by te staan.
Die span vertel dat hulle vir plante by inwoners begin aanklop het en het selfs na verskille skole en organisasies geloop vir hulp. Die trotse span het aan WeskusNuus vertel dat Atlantis baie besoekers kry en die hoofpad nie so kan lyk nie. “Baie mense wil ons net oordeel omdat ons in Dura woon, maar hulle vergeet dat Dura reeds dokters, onderwysers, polisiemanne, ingenieurs en ook ’n raadslid opgelewer het.”
Volgens oom James is nie almal in die gebied bendelede nie en word hul woongebied meer deur inkommers oorheers. Die drie vertel ook trots dat hulle nog lank nie klaar is nie. “Ons beplan om nog bankies en gras hier te sit waar mense lekker kan kuier. Ons wil ook graag draad span net om die honde uit te hou, want ons handewerk word deur dié diere verniel.”





