Met die nuwe jaar in volle swang, het baie van ons goeie Nuwejaarsvoorneme – goeie bedoelings en planne om die lewe vir onsself en dié wat ons lief het, beter en makliker te maak.
Hoe om by jou voorneme te hou:
Dit verg baie moeite en energie om ’n doelwit saam te stel wat die toets van tyd kan weerstaan. Dit sal nodig wees dat jy tyd neem vir ernstige self-refleksie.
Insig rakende jou afbrekende gedrag en denkwyse is nodig.
Verder is ’n vasbeslote besluit en ’n plan van aksie baie belangrik. Dieselfde is op verslawing van toepassing. Om van verslawing te herstel, verg baie toewyding. ’n Paar stappe om hierdie proses te vergemaklik:1. Kry ondersteuning: Om te herstel kan nie alleen gedoen word nie. Dit kan baie help om ’n professionele behandelingsprogram soos Cape Town Drug Counselling Centre se program by te woon. Dit is ook ’n goeie idee om by ’n ondersteuningsgroep aan te sluit, soos Narcotics Anonymous. 2. Betrek jou familie: Dit klink dalk moeilik, maar dit is ’n belangrike stap in die herstelproses. Nooi jou familie uit om jou terapeut te ontmoet. Deel eerlik met hulle en hou op om geheime te hou. Familie en vriende vervul ’n baie belangrike rol in die motivering van verslaafdes om behandeling te kry en in behandeling te bly. Om familie of vriende betrokke te kry, kan die herstelproses vir die verslaafde heelwat versterk. 3. Raak wys: Identifiseer wat jou triggers is. Dit is die dinge wat veroorsaak dat jy weer wil gebruik en kan tot ’n terugval lei. Dit kan amper enigiets wees, maar is gewoonlik emosies, mense, plekke en dinge wat jou aan jou middelmisbruik herinner. Volgende moet jy die verantwoordelikheid neem om hierdie triggers te hanteer.4. Wees bereid om jouself uit te daag: Wees bereid om toegewyd te raak en alles in te sit om te herstel. Die herstelproses neem baie tyd en moeite. Dit kan dalk gebeur dat jy moedeloos begin voel as veranderinge nie so vinnig gebeur as wat jy graag wil hê dit moet nie.
Die geheim is om geduldig te bly en steeds te volhard in die positiewe veranderinge wat jy besig is om teweeg te bring.
Die herstelproses is ’n algehele lewensverandering en dit is moontlik die grootste uitdaging wat jy in jou hele lewe gaan teëkom, maar die herstelproses maak dit algeheel die moeite werd. . Kontak Cape Town Drug Counselling Centre by 021 571 7180 vir verdere inligting.

