Atlantis se misdaadvoorkomingseenheid en lede van die Wes-Kaapse LEAP-program het Saterdag (2 Desember) gewys dat hulle nie net rondry om sigbaar te wees nie.
Die span in blou het omstreeks 00:00 ’n groep van 12 jongmense in Zeelandstraat in Uitbreiding 13 gewaar, wat vier jong vroue ingesluit het.
Volgens lt.kol. Mario Thyse, die waarnemende stasiebevelvoerder by die plaaslike polisiekantoor, het die beamptes by die jongmense stilgehou en die groep deursoek. Thyse het gesê beamptes het met verdere ondersoek op ’n versteekte vuurwapen afgekom. Hulle het ook ammunisie – vyf patrone – gekry. Die groep is deur die wetstoepassers op aanklag van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie aangekeer, het Thyse gesê.
“Inwoners sal nooit werklik besef wat dit beteken om vuurwapens uit die strate te haal nie. Dit het gewis lewens gered,” meen Thyse.
“Die gebied gaan reeds gebuk onder misdaad en lede op patrollie sal voortdurend verdagte groepies mense deursoek. Met die feestyd op hande sal lede van die polisie nog meer sigbaar wees,” het hy voornemende kwaaddoeners gewaarsku.





