Elroy Tippens, raadslid Allister Lightburn, Johan Oosthuizen, Jaco Fouche en Michael Marote jr. tydens die raadslid se besoek aan die projek. Foto: Murphy Roberts


Die raadslid Allister Lightburn het Vrydag 7 Oktober ’n verrassende besoek aan verskillende Atlantis Spesiale Ekonomiese Sone (ASEZ)-projekte in die dorp gebring.

Volgens Lightburn wou hy sien of plaaslike ondernemings en werkloses by dié projekte baat.

“Ek is geweldig beïndruk met Johan Oosthuizen en sy span van Inoprop, wat uitbreidings by ’n fabriek doen. Die span het vier plaaslike kontrakteurs aangestel en gebruik ook plaaslike verskaffers, wat gewis ’n riem onder die hart is,” vertel hy.

“Wat veral tydens my besoek aan die projek oplettend was, is die kameraadskap tussen werkgewer en werknemer – dit is iets wat ek nie by ander projekte waargeneem het nie.”

Volgens Oosthuizen, die eienaar van Inoprop, is dit net hoe hulle werk: “Niemand is minder as die ander nie en ons verkies om openlik met almal te wees.”

Spesialiswerk, wat nie plaaslik gedoen kan word nie, word gekontrakteer op die voorwaarde dat plaaslike mense aangestel en opgelei moet word.

Volgens Elroy Tippens, een van die plaaslike kontrakteurs, het hy nog nooit met só ’n maatskappy gewerk waar die eienaar daagliks werkers met die hand groet en na hulle welstand verneem nie.

Volgens Tippens kan hulle ook enige tyd kwessies bespreek sonder om te vrees dat hulle dalk hul werk kan verloor.

Michael Marote jr., die gemeenskapskakelbeampte, sê hy het al vir verskeie maatskappye gewerk, maar hier is dit iets anders. “Die base is eenvoudig en baie tegemoetkomend teenoor plaaslike kontrakteurs, en dit kry jy nie elke dag nie,” meen hy.

Lightburn sê hy positief oor die geleenthede wat die ASEZ skep.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article