Atlantis kolwer Abe Henkeman word skitterend deur Piketberg se paaltjiewagter uitgevang in die twee spanne se kragmeting tydens die Johannes Braaff T20-krieket toernooi.Foto: David Rossouw


Die Baggy Blues-krieketspan van Atlantis het die eerste keer aan die Johannes Braaff- T20-kriekettoernooi, wat deur die Darling-krieketklub van 2-3 April op die Darling-sportterrein aangebied is, deelgeneem.

Die hoop was om sy 2021-’22-seisoen op ’n hoë noot met ’n trofee af te sluit, maar dit het ongelukkig nie gebeur nie.

In sy eerste wedstryd, Saterdag 2 April, het hy reeds teen Piketberg met drie paaltjies vasgeval nadat hy slegs 113/7 in sy toegelate 20 boulbeurte aangeteken het. Die Blues moes in sy tweede wedstryd Sondag teen Darling baie hard werk vir sy oorwinning met twee paaltjies oor die gasheer. Die kolwers het hierdie keer hul kant gebring, maar kon netsowel die wedstryd deur die vingers laat glip het, was dit nie vir die goeie vertonings van die boulers nie. Die wenlopies is eers met die tweede laaste bal gemoker, wat aan Atlantis ’n derde plek besorg het.

Dit was seker een van die swakste vertonings deur ’n Baggy Blues-span in ’n lang tyd in ’n T20-toernooi en dit sal gewis nie op aangename wyse deur die span of die klublede onthou wil word nie. Swak veldwerk en hardloopwerk tussen die paaltjies was een van die groot struikelblokke. Die span se swak kolf- en boulvertonings was werklik teleurstellend en die kolwers en boulers sal baie harde werk in die afseisoen moet doen as die Baggy Blues enigsins mededingend in T20- en eendagkrieketwedstryde in die 2022-’23-seisoen wil wees.

Harde werk lê nou vir die afrigter Kurt Julius en die klubkaptein Jevon Cloete in die buiteseisoen vir die Baggy Blues voor, vir hul voorbereiding vir die nuwe krieketseisoen van 2022-’23 in afdeling C van die WP-krieket-unie.

Met ’n paar tegniese verstellings aan sy boul- en kolftegniek – veral onder die talentvolle jong spelers in die span – kan Atlantis gewis nog die hoogste sport bereik, meen die afrigterskorps. Vredenburg/Saldanha het die trofee gewen, met Darling die naaswenners.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article