Die pasgebore baba is deur inwoners van Robinvale gevind en sterk tans in die hospitaal aan.


“Nie eens ’n hond gooi sy kleintjies weg nie!”

Só het dit Maandag (23 Augustus) in Robinvale gegons toe inwoners op ’n huilende, pasgebore baba in die bosse afgekom het.

Volgens omstaanders, wat nie genoem wil wees nie, het hulle ’n gehuil uit die bosse gehoor en gaan kyk toe hulle op die pasgebore kleintjie, wat in vuil komberse toegedraai was, afkom en het alarm gemaak.

Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, sê inwoners het polisielede wat op patrollie in Starling-rylaan was, voorgekeer en van die vonds vertel.

Volgens Munro was die baba reeds blou in die gesig en is sy inderhaas na die hospitaal geneem waar sy gestabiliseer is. Volgens ’n betroubare bron is die baba gewis daar “gedump” omdat geen bloed op die toneel gevind is nie. Die bron het ook aan Weskus Nuus verklap dat die ma by ’n huis moes gekraam het aangesien die naelstring geknip en met ’n wasgoedpennetjie vasgemaak was.

Inwoners van die omgewing is geskok oor die ma se optrede en baie voel sy kon die baba by ’n huis afgegee het.

Sers. Wilmot Isaacs, die ondersoekbeampte van die Milnerton-polisie, vra inwoners met inligting moet vorendag kom.

Isaacs kan by 071 604 8365 gekontak word en alle inligting sal streng vertroulik hanteer word.

Volgens Munro sal die babameisietjie moontlik na ’n hospitaal in Kaapstad oorgeplaas word waar sy verder sal aansterk.

Die ma is nog nie opgespoor nie. Munro het bevestig ’n klagte van kinderverlating word ondersoek, maar kan na poging tot moord verander.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article