Veiligheid is ’n basiese reg en nie ’n luuksheid nie, sê die wyksraadslede Allister Lightburn en Moosa Raise. Foto: Murphy Roberts


Dit is tyd dat Atlantis ook moet baat by tegnologie wat suksesvol in ander gebiede gebruik word, het die twee plaaslike wyksraadslede gesê.

Weskus Nuus wou by Allister Lightburn en Moosa Raise weet of plaaslike misdaadbekamping ook met die hulp van tegnologie sal plaasvind. “Drones en shotspotter” word reeds suksesvol in ander bendegeteisterde gebiede oor die Kaapse Vlaktes gebruik.

Volgens Raise moet inwoners se veiligheid eerste gestel word en hy het aanbeveel dat hy en Lightburn met die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, JP Smith, praat.

Baie inwoners voel nie eens veilig in hul eie wonings nie, en daarom is dit belangrik om die tegnologie hier te kry meen hulle.

Raise sê in baie gevalle is meeste inwoners bang om hul kinders helder oordag na ’n winkel te stuur “en dit is nie reg nie!”

Inwoners word deur bendelede in die dorp gyselaar gehou, en tog is hulle in die minderheid verduidelik die raadslede.

“Niemand word ontsien nie – hetsy dit ’n baba of senior burger is – want die waarde van ’n lewe is niks vir die skieters nie.

“Ons kan dit egter nie alleen doen nie, en ander rolspelers moet ook na die tafel kom omdat die oortreders enige teikens kies,” sê Raise.

Volgens Lightburn kan die tegnologie vinniger reaksietyd beteken, veral omdat baie van die skietvoorvalle nie aangemeld word nie wat beteken volgens die data val Atlantis nie onder die 10 gebiede wat dit nodig het nie. Hy sê hulle moet na wetgewing kyk sodat enige skietvoorval aangemeld word – of mense ’n klagte wil aanmeld of nie.

“Ek is ’n voorstander van kringtelevisiekameras, maar kan ongelukkig nie my volle wyk-toelaag daarop bestee nie, want ander projekte verdien ook aandag,” sê hy.

Volgens Lightburn beteken ’n veiliger Atlantis ook meer beleggings en meer werksgeleenthede. Hy het ouers gevra om nie hul kinders se optrede te regverdig nie en met die polisie of ander wetstoepassings-agentskappe saam te werk, omdat veiligheid ’n basiese reg is, en nie ’n luuksheid nie. “Die tyd is nou reg vir alle rolspelers om die wiel aan die rol te kry om Atlantis ’n veiliger plek vir almal te maak,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article