Die Atlantis-rugbyklub het ná ’n teleurstellende voorseisoen sy beste vir die liga gehou en sy eerste wedstryd gewen. Foto: Verskaf


Ná ’n loesing van 66-7 in sy eerste WP- Superliga A-wedstryd teen Valsbaai op 2 April, het Hamlets opgestaan en karakter teen Brackenfell in sy tweede wedstryd Saterdag 9 April op die Mamre-sportterrein gewys.

Alhoewel Brackenfell met sy swaarder voorspelers die vaste en los spel oorheers het, het ’n ligter Hamlets-agttal nie ’n millimeter teruggestaan nie.

Brackenfell het eerste punte aangeteken toe die slot Morne Oberholzer vir ’n drie onder die pale oorgeval het; dit is verdoel deur die senter Dan Aspeling vir ’n voorsprong van 7-0. Die besoekers het ’n tweede drie aangeteken toe sy vleuel Dawid Grundling twee Hamlets-verdedigers geklop het voordat hy in die regterkantse hoek vir dié drie oor is.

Met die telling 14-0 in Brackenfell se guns het Hamlets koelkop gebly en sy kanse afgewag, wat beloon is toe Chad Passens ’n strafdoel van omtrent 22 m oorgeklits het. Hamlets het daarna sy eerste drie gedruk toe Robin Davids langs die pale oorgeval het en Passens verdoel het. Die besoekers het egter met twee vinnige drieë teruggekap en die telling 27-10 in die 27ste minuut gemaak en die gevaarligte het vir Hamlets begin flikker. Die spanne het gaan water drink met die telling 15-27 nadat Raaul Stubbs vir die tuisspan gaan druk het.

Gavin Passens, Hamlets se afrigter, se harde woorde in rustyd het vrugte afgewerp, want die voor- en agterspelers het meer konstruktiewe spel gespeel en minder foute begaan. Hoewel Brackenfell die wedstryd voorlangs met sy swaarder voorspelers oorheers het, kon hy nie sy goeie spel van die eerste helfte handhaaf nie en net sewe punte in die tweede helfte aangeteken.

Stubbs het sy tweede drie gedruk, wat die tuisspan se agterstand laat krimp het. Swak skopwerk en hanteerfoute het Hamlets egter die wedstryd gekos en hy moes met 25-33 die aftog blaas. . Atlantis RK het ná ’n sukkelende voorseisoen sy eerste WP- Southern-ligawedstryd teen Retreat gewen.

Atlantis, wat al sy vriendskaplike wedstryde verloor het, het egter sy beste vir die liga gehou. Die span, wat rustyd 10-5 voor was, het die titaniese stryd 15-5 gewen. Sy jong agterlyn moes in die tweede helfte meestal verdedig, maar die spelers het die besoekers op die agtervoet gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article