Terwyl politieke leiers sê Atlantis tel nie onder die top-10-gebiede waar skietvoorvalle plaasvind nie, klap skote daagliks in die gebied.
In die jongste voorval is die 23-jarige Prezano Saayman verlede Dinsdagaand (6 Junie) in Freemontlaan, Sherwoodpark, afgemaai.
Volgens kapt. Lisa Munro, ’n woordvoerder van die plaaslike polisie, het die voorval tussen 19:00 en 20:00 plaasgevind. Volgens Munro het die oorledene in Freemontlaan geloop op pad huis toe, toe twee onbekende mans op hom losgebrand het. Die twee skieters, wat gelyk op hom losgebrand het, het te voet van die toneel af gevlug.
Munro het gesê ander skietvoorvalle het ook op dié dag voorgekom, en in baie gevalle is dit nie aangemeld nie. “En dit is ’n probleem,” sê sy.
Geen verdagtes is nog vir die moord op Saayman aangekeer nie. Volgens die Wes-Kaapse minister van veiligheid en polisie-oorsig, Reagen Allen, toon die jongste statistieke dat die provinsie se moordsyfers die meeste in die kwartaal van Januarie tot Maart vanjaar gedaal het. Hy het in ’n verklaring gesê 143 minder moorde is gepleeg sedert verlede jaar dieselfde tyd en Atlantis het 23% minder moorde in dieselfde tydperk gehad. Volgens Allen is dit duidelik dat die Wes-Kaapse veiligheidsplan werk en dat die LEAP-beamptes ’n verskil maak in die gebiede waar hulle ontplooi word.
Allen het ook bygevoeg die meeste van die moorde is bendeverwant, “en dit is ’n probleem”, het hy gesê.
“Dit maak ons egter meer vasberade om hierdie elemente uit die samelewing te verwyder, en ons sal harder werk om misdaad hok te slaan.”
Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê die jongste syfers is bemoedigend en dien as bewys dat die manne en vroue in blou hard werk om misdaad te bekamp.
“Om inwoners veilig te hou, bring ook menswaardigheid terug, en om dié rede sal ons alles moontlik doen om inwoners veilig te hou,” meen hy.


