“Dit is tyd dat Atlantis se straatname moet verander om die plaaslike helde van die dorp te vier,” meen die ANC-proporsionele raadslid Fiona Abrahams.
Abrahams het tydens die subraad 1-vergadering op 27 Augustus ’n mosie ingedien dat dié proses moet begin. Volgens dié mosie moet die straatname verander en indien dit nie kan gebeur nie, moet alle nuwe ontwikkelings die name van plaaslike helde kry.
Volgens Abrahams is haar mosie ná ’n lang stryd met DA-raadslede uiteindelik op die vergadering aanvaar.
“Ek was deur Nora Grose, die voorsitter van subraad 1, aanbeveel om die mosie direk na die provinsiale straatnaamveranderingkomitee te stuur, maar ek het gevoel dit is iets wat deur die subraad gedryf moet word,” vertel Abrahams en voeg by: “Atlantis se straatname het geen geskiedenis in die provinsiale argiewe nie. Niemand ken die mense na wie die strate hier genoem is nie en dit is tyd dat inwoners self moet besluit wat die straatname moet wees.”
Abrahams sê dit gaan nie vir haar oor politiek nie, maar Atlantis het “talle leiers wat hulle alles vir die dorp gegee het en dis net reg dat dié mense nou vereer moet word.”
Sy weet die proses gaan nie oornag gebeur nie, maar meen as die gemeenskap insae gaan hê in die proses, is dit reeds ’n oorwinning.

