Tirah Africa van Robinvale Sekondêr het verlede jaar die nasionale WOW-spelfeeskompetisie gewen. By haar is die onderwyser Weronique Davids.Foto: David Rossouw


Ten spyte van geweld en bendebedrywighede in Atlantis, presteer Atlantis-skole se leerders steeds onder dié omstandighede.

Die afgelope twee jaar het Robinvale Sekondêr op akademiese sowel as sportgebied merkwaardig presteer. “Die leerders en onderwysers moet krediet kry vir die skool se prestasies. Ek is net die skip se kaptein,” het ’n tevrede skoolhoof, Vaughan Murray, aan Weskus Nuus gesê.

Sedert die begin van die WOW-spelfeeskompetisie, wat deur Sanlam geborg word, het die plaaslike skool die eerste keer ’n nasionale kampioen, Tirah Africa, opgelewer.

Weronique Davids, wat haar finale proeftydperk as aspirant-onderwyser by die Hoërskool Robinvale in 2022 voltooi het en nou hier onderwys gee, sê die leerders is gretig om te leer en te presteer, en daarom het sy besluit om by die WOW-spelfeeskompetisie betrokke te raak.

Davids, ’n oudleerder van Saxonsea Sekondêr, is self ’n voormalige nasionale WOW-spelfeeskampioen.

Deesdae oortuig Davids se entoesiasme die leerders hulle kan wenners wees, maar hulle moet eers ’n opleidingstrategie uitwerk en hul verwagtinge in positiwiteit omskep om hulle uit hul gemaksone te lig, het sy gesê.

Altesaam 16 leerders het in 2022 aan die WOW-spelfees deelgeneem en sewe het vir die eindronde in die provinsiale kampioenskap gekwalifiseer. Van hulle het ongelukkig uitgeval, terwyl Tirah Africa die nasionale titel gewen het en Sharleene Petersen vyfde geëindig het.

Tirah het onlangs weer eens die eerste plek in die provinsiale uitdunne gebuit en sal nou haar nasionale titel op 7 Oktober in Stellenbosch teen die ander provinsiale kampioene verdedig.

Davids het aan Weskus Nuus gesê leerders het net motivering nodig om te presteer. “Ek is baie trots op dié leerders se prestasies.”

Die skool het by die afgelope wiskunde-olimpiade, wat in Augustus deur die Universiteit van Kaapstad (UK) aangebied is, ook ’n wenner uit die gr. 8- tot gr. 11-leerders, wat deur die skool gekies is, opgelewer.

Eryn Myburg is as een van die pryswenners aangewys en sal sy prys aan die einde van September by die UK ontvang. Die skool meen Eryn se goeie prestasie is wonderlik vir die skool.

Agt gr. 8- en gr. 9-leerders het verlede jaar aan die Live Math-olimpiade deelgeneem en twee silwer- en ses bronsmedaljes uit die sowat 180 000 leerders van oor die wêreld heen ontvang.

“Die kompetisie vind in die eerste week van die vierde kwartaal plaas en ons mikpunt is om minstens drie of vier goue medaljes en een platinum los te slaan,” het Elrique Snyders, die skool se sokker-organiseerder, gesê.

Robinvale het ook gewys hy is mededingend in skaak. Skaak is ’n nuwe sportkode by die skool, en hier het die skool se drie spanne, o.15, o.17 en o.19, ook goeie resultate behaal.

“Leerders verbeter nie net op akademiese vlak nie, maar dit het ook ’n positiewe uitwerking op die leerder se dissipline en spanbou,” sê Snyders.

Die skool pronk met verskeie provinsiale en nasionale sokkerspelers, wat Roy-Kean Avontuur en Jayden Rhodes insluit. Hulle is die jongste sportsterre, wat professionele sokker vir Stellenbosch en Cape Town City in die PSL speel. Op die sokkerveld ken Robinvale nie sy gelyke nie, aangesien hy amper elke sokkerkompetisie in die Wes-Kaap en SA al gewen het.

Volgens Snyders ontwyk die Grey Kollege-sokkertoernooi die skool steeds, maar hy hoop hulle sal op 5 Oktober in Bloemfontein as die wenners van die veld af stap.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article