Die Atlantis-gholfklub is die nuwe Vernon Lewis Rival-kampioene vir 2022 toe die span die jaarlikse kompetisie in Darling gewen het. Foto: Verskaf


Die Atlantis-gholfspan het voorverlede Saterdag (27 Augustus) die jaarlikse Vernon Lewis Rival-gedenktrofee in Darling gewen. Dié jaarlikse kompetisie tussen buurspanne (Atlantis, Mamre, Morning Star en Darling) is verlede jaar deur Mamre gewen.

Volgens Nick Januarie, die kampioenspan se kaptein, het die span voor die eerste afslaan besluit as hulle wen, sal hulle die prysgeld (R2 400) aan die weduwee van Vernon Lewis, ’n oud-deelnemer aan die kompetisie, skenk.

Die span het nie meer aansporing as dít nodig gehad nie en elke lid van die kampioenspan het sy deel gedoen, sê Januarie.

Atlantis het met die eerste bofhou sy stempel afgedruk en die oggend se viertalle (alternatiewe houe-spel deur twee spanmaats per dorp) gewen en het voortgebeur om ook in die enkelspelwedstryde (een speler per dorp) die septer met die meeste punte geswaai.

Januarie was in ekstase met sy span se oorwinning en met goeie rede – nie net het sy uitstekende leiereienskappe rigting gegee aan sy span nie, maar hy het ook ’n allemintige vyf punte ingebring. Die groot helde in die wenspan, Hubert “Little Tiger” Greybe en Roy “Punte -masjien” Kupido, wat met hul akkurate kortspel naby die setperke en hul sethoue hul teenstanders behoorlik gedril en die punte laat inrol het, was uit die boonste rakke, vertel Januarie.

Hubert het volpunte (ses) aangeteken deur al sy teenstanders te klop. Volgens Melvin Adams, Atlantis se onderkaptein, was Darling as gasheer se tweede plek welverdiend en sy kaptein, Nicky Arendse, kan sy kop hoog hou. Die dag was goed georganiseer, die verversings heerlik en hul gasvryheid om oor huis toe te skryf.

Morningstar het ’n gemoedelike derde plek behaal, maar sy sportmanskap en nederigheid was topklas, sê Adams.

Die seëvierende kaptein het gesê “die beste span op die dag het gewen, maar die eintlike wenners was sportmanskap en gholf”.

Die amptelike puntestand: 1ste plek: Atlantis (30,5 punte) 2de plek: Darling (29,5 punte), 3de plek: Morningstar (28 punte) en 4de plek: Mamre (20 punte).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article