Dis ’n unieke klub wat in Maart 2016 gestig is danksy Saxonsea Primêr.
Volgens Johan van der Berg, stigterslid en senior afrigter van Atlantis-ringbalklub bestaan ringbal (voorheen bekend as korfbal) reeds 113 jaar in Suid-Afrika.
Dié sport se naam het vir 100 jaar as korfbal bekendgestaan, maar is na ringbal verander volgens die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok), se vereistes.
“Ringbal is ’n gesinsport wat deur oud en jonk gespeel kan word en is ’n kombinasie van basketbal en netbal. Spanne begin van o.11 met meesterspelers wat ouer as 55 is,” verduidelik Van der Berg.
Elke span het nege spelers en die baan bestaan uit drie gelyke afdelings, ’n doelblok, middelblok en verdedigerblok.
Van der Berg sê elke span het drie doelskieters, drie middelbaanspelers en drie verdedigers, met drie plaasvervangers per span.
“Ringbal is ’n vinniger sportsoort as basketbal en netbal, want ’n speler het slegs twee sekondes vandat jy die bal ontvang het om dit aan jou spanmaat te gee,” verduidelik hy.
Ringbal vereis goeie hand-oog-koördinasie, goeie balvaardighede en die vermoë om die teenstander uit te oorlê met vaardighede en spoed.
Geen speler mag mik met die bal in ringbal of die bal teen sy lyf vang nie – andersins is dit ’n vrygooi vir die ander span.
Ringbal word nie in gemengde spanne van mans en vroue gespeel nie.
Atlantis-ringbal bestaan uit twee afdelings: seniors en skoleringbal. Die senior klub het drie groepe – twee manspanne, ’n vrouespan asook verskeie skoolspanne.
“Die plaaslike klub neem aan die Kaapstad-ringbaldistrikliga deel wat deel is van die Kaapse Wynland en speel onder meer teen spanne van Bellville, Saldanha en Ceres, in ’n rondomtalietoernooi,” verduidelik die afrigter.
“Verlede jaar het die klub se spelers uitgeblink toe hulle aan die Kaapse senior proewe deelgeneem het. Ses spelers was in die o.20-manspan (Kaapstad) opgeneem met drie ander spelers wat in die senior manspan opgeneem is wat aan die nasionale ringbaltoernooi in Pretoria deelgeneem het,” vertel Van der Berg.
Die Atlantis se senior manspan het die B-afdeling gewen en goue medaljes verower. Die klub is ook baie aktief by die afrigting by skole betrokke. ’n Hoogtepunt van die klub was toe 45 ringbal-skolespelers van Atlantis verlede jaar tydens die Septembervakansie aan die skole se nasionale toernooi by die Camp Discovery in Pretoria deelgeneem het.
Die o.15-seuns was die ligawenners en het goud verower met agt spelers wat die SA ringbalskolespan gehaal het.
. Om nog oor ringbal uit te vind, bel Van der Berg by 082 423 2268. Andersins kan hy by 021 577 1239 geskakel word of stuur ’n e-pos na johan@gracestaffing.co.za.




