Ná hul loesing van 26-47 teen Macassar verlede Saterdag (3 Augustus) het Atlantis na Kraaifontein gereis om Scotsdene Central in hul agterplaas in die Westelike Provinsie-rugbyunie se Superliga C-kompetisie aan te durf.
Die tuisspan het uit die staanspoor die pap van die afskop af dik aangemaak en Atlantis onder geweldige druk geplaas.
Met onplesierige reën wat by tye hard geval het, het die twee spanne mekaar geen beweegruimte gegun nie.
Central het kort voor lank ’n 3-0-voorsprong geneem nadat Atlantis vir onkantspel gestraf is.
Die besoekers het egter in die sesde minuut teruggeslaan toe hul agterlyn Central se verdediging geskeur het en Johnathan Nango onder die pale afgerond het. Pedren Dido se doelskop was in die kol, wat Atlantis die voortou met 7-3 laat neem het.
Atlantis se dissipline het hom by tye in die steek gelaat, wat Central binne trefafstand gehou het. Central het hul eerste drie aangeteken nadat Atlantis ook twee keer vir onkantspel gestraf is. Central het van ’n lynstaan af gedruk en die voortou geneem (telling 10-7).
Central het die eerste helfte afgesluit met ’n tweede verdoelde drie vir ’n voorsprong van 17-7 terwyl die twee spanne met lemoentyd gaan stoom afblaas het.
Boelie Solomons, Fabian Brandt en Franco Johannes was nie gelukkig met die verloop van sake nie en het rustyd harde woorde met die manne gehad. Atlantis het egter ná die afskop tot sy reg gekom toe eers Rosco Booysen en toe Breyton Maree gaan druk het, met Dido wat twee punte bygevoeg het vir ’n tweepuntvoorsprong van 19-17.
Met die ontplooiing van impakspelers het Atlantis gewys Central sal diep moet delf om hulle verby te steek toe Luciano Adams die bonusdrie gaan druk het. Dido se doelskop was mis, maar Atlantis het sy neus met 24-17 voor gehou.
Met sewe minute oor en ’n sewepuntvoorsprong moes Central twee verdoelde drieë druk om die wedstryd met ’n bonuspunt te wen en Atlantis uit die sesde posisie te lig. Hulle kon egter net een onverdoelde drie druk. Hul kanse was daarmee heen en Atlantis het met 24-22 gewen.
Atlantis speel eerskomende Woensdagaand op die Rosina Paarwater-stadion in Bellville-suid teen Busy Bees en hul laaste wedstryd Saterdag 17 Augustus op Proteapark teen Blue Jets. ’n Moontlike derde of vierde plek is in sig as hulle beide wedstryde met ’n bonuspunt wen. Dit sal verseker dat hulle ’n kwarteindstryd tuis kry.
In nog ’n Superliga B-wedstryd het Hamlets op ’n nat veld in Langa die tuisspan met 12-10 geklop. Hamlets het verlede week vonkelwynrugby in hul 59-19-oorwinning oor All Saints opgedis. Die span van Mamre, wat vroeër die seisoen gesukkel het, het egter hul ritme gevind en speel weer soos die span van ouds.
In die Boland-grootuitdaagbeker het Young Hearts van Pella vir Piketberg met 33-0 gelooi, terwyl Mamre 20-37 teen St. Helenabaai vasgeval het.





