Die Atlantis-gholfklub het Saterdag 1 Julie vir die grootse opskudding en heelwat konsternasie in WP gholfgeledere veroorsaak deur die verdedigende kampioen, Kuilsrivier, op dramatiese wyse in die kwarteindronde van die prestigeryke Harry Solomon Matchplay-liga te klop.
Atlantis het vriend en vyand verras aangesien Kuilsrivier die afgelope twee jaar onoorwonne is en ook die gunsteling was om vanjaar weer te seëvier. Atlantis se spelers het egter ander planne gehad en hul aanslag is gelei deur die tuisspan se parings op die Parow-gholfbaan – Quinton Naidoo met Cohen Williams en Gerald Petersen met Paul Rebel (wat steeds onoorwonne in die kompetisie is) asook die wegspan, wat op die Kuilsrivier-gholfbaan gespeel het, se parings van – Victor Lukas met Jacques Moolman en Nick Januarie met Roy Kupido – en elk van hierdie parings het ’n wenpunt ingebring.
Die stryd het op dramatiese wyse op die 18de putjie geëindig nadat die spelers hul bofhoue geslaan en daarna weens die donkerte nie hul balle kon opspoor nie. Die wedstryd is gevolglik stopgesit en Januarie en Kupido is as wenners verklaar omdat hulle op daardie tydstip met een putjie voorgeloop het.
Die algehele puntestand nadat al die wedstryde voltooi verklaar is, was ’n gelykopuitslag met Atlantis en Kuilsrivier op vier punte elk, maar Atlantis is daarna as die wenner gekroon omdat hy met meer punte in sy individuele wedstryde gewen het.
Januarie, die enigste oorblywende lid van die legendariese span van Atlantis wat al in die eindronde van hierdie uiters mededingende en veeleisende Harry Solomon-liga gespeel het, het gesê hierdie span het die potensiaal om vanjaar die beker te wen.
Ander spanlede wat in die groepfase se rondomtalie -wedstryde hul staal gewys en hulself as staatmakers gevestig het soos Russel de Leeuw, Hubert Greybe, Marius Apollis en Chris-Lee van Wyk sal egter ook hul kant moet bring indien Atlantis die uitklop fase vorentoe gaan oorleef.
Die kaptein van Atlantis se tuisspan, Quentin Naidoo, het by die onthaal ná die wedstryd onomwonde en breëbors uitbasuin dat Atlantis nou onstuitbaar is in sy opmars na die eindronde en die span sal alles gee om die dorp trots te maak. Die halfeindronde is Saterdag (15 Julie) teen King David Mowbray.





