Die span (agter) Nicquin Arendse, Liam Adonis en Quewin Botha en (voor) Gavanie Baartman, Ashwin Keshaba en Diego Thomson, het onoorwonne in hul afdeling geëindig.Foto: Verskaf


Die Atlantis-skolegholfspan het ’n droomseisoen gehad en al hul groepwedstryde teen van die topskole gewen.

Shawn Conrad, die afrigter, sê hy is baie trots en meen die name van Gavanie Baartman, Ashwin Keshaba, Diego Thomson, Nicquin Arendse, Liam Adonis en Quewin Botha “gaan nog baie gehoor word”.

Die span het hul Noordelike B-ligagroepwedstryde onoorwonne afgesluit en sodoende vir die eindronde teen Bishops Diocesan Kollege gekwalifiseer. Die span, wat swaarkry ken, het egter die spelers van Bishops laat sweet vir ’n oorwinning. Die eindstryd op ’n koue KD Mowbray-gholfklub Maandag 6 September het Adonis egter nie van stryk gebring nie.

Hy het Atlantis ’n vroeë voorsprong gegee toe hy Jack Lee 6/4 geklop het. Die voorsprong is egter gou uitgewis toe Adam Buckham sake met ’n sege van 4/3 oor Arendse gelyk gemaak het.

Bishops het die voortou geneem toe Michael Cadiz met ’n oorwinning van 5/3 oor Thomson geseëvier het.

Die plaaslike span het nooit moed opgegee nie en die voormalige Weskus Nuus/Let’s Play-wenner Quewin Botha het met karakter en veggees sake weer gelyk gemaak met ’n 4/3-oorwinning oor Caden Chuang. Met die telling twee elk was enigiets moontlik met net twee wedstryde oor. Baartman het daarna ’n kans gehad om Atlantis die nodige voorsprong te gee, maar het 2/3 vasgeval teen Josh Brummer om Bishops ’n 3/2-voorsprong te gee. Bishops het egter kalm gebly en die kampioenskap verseker toe Kayan Jaga met 3/2 baas oor Kasaba was.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article