Pedren Dido druk Atlantis se bonuspuntdrie in die wedstryd teen Young Wesley’s op Proteapark.Foto: Murphy Roberts


Atlantis-rugbyklub het Saterdag, 20 Mei Young Wesley’s op die Proteapark-sportterrein 26-21 geklop nadat hy rustyd 7-15 agter was.

Die twee spanne was voor die wedstryd oorwonne in die WP- suidelike liga.

Die besoekers, wat gou 3-0 voor was, het die tuisspan deeglik beproef.

Atlantis, wat steeds onoorwonne is, het egter nooit onder die druk geswig nie en het die besoekers behoorlik in die grond in geskrum, maar swak dissipline het die tuisspan byna gekelder.

Atlantis, met ’n jong, opwindende agterlyn, kon in die eerste helfte nie een lynstaan wen nie, wat die besoekers baie gebiedsvoordeel gegee het. Die span het egter sy skrumwerk tot sy voordeel gebruik en sy neus met ’n verdoelde drie voor gekry. Met honderde ondersteuners wat positief gebly het, het die besoekers egter die tuisspan se swak dissipline tot hul voordeel gebruik en met twee drieë voor rustyd geantwoord.

Die tweede helfte was egter ’n ander storie en die tuisspan se veggees het sterk na vore getree. Die span het wel steeds in die lynstane gesukkel, maar rotsvas verdedig. Die tuisspan het met ongedwonge foute kanse verbrou om meer punte aan te teken. Die tuisspan se goeie skrumwerk het ook tot ’n strafdrie gelei.

Die besoekers het egter nooit opgegee en met die telling 21-18 in die tuisspan se guns, moes Atlantis keer vir al wat hy werd is. Die tuisspan het egter met minute oor sy bonuspuntdrie aangeteken en die oorwinning verseker.. Atlantis het Saterdag (27 Mei) na Mitchells Plain gereis, maar die wedstryd is afgelas toe die skeidsregter nie opgedaag het nie.

Mamre het verlede Saterdag (20 Mei) ’n gulde geleentheid op sy tuisveld verbrou om tussen die vroeë voorlopers te wees toe die groentruie 25 elk teen Paternoster gespeel het. Young Hearts het dieselfde naweek teen die verdedigende kampioen, Saldanha, op dié se tuisveld vasgeval. Young Hearts, wat meestal voorgeloop het, het die wedstryd egter in die laaste 10 minute verloor.

Young Hearts en Mamre het mekaar Saterdag (27 Mei) op die Grafkelder gepak en die wedstryd het 18-18 gelykop geëindig,

Dié derby-stryd was van die afskop af gelyk en min liefde was duidelik tussen die spelers te vinde. Die gelykopstryd, wat enige kant toe kon swaai, het ook die beste uit die twee buurspanne gehaal danksy rotsvaste verdediging. . Young Hearts reis dié naweek na Hopefield en Mamre onthaal Piketberg.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article