Kiesers in uitbreiding 12 het geduldig gewag om hul stem tydens die onlangse nasionale verkiesing op 29 Mei te laat hoor.Foto: Murphy Roberts


Ten spyte van hoër verwagtinge van politieke partye het die pas afgelope nasionale verkiesing nie baie verrassings plaaslik opgelewer nie. Die DA het sy oorheersing in Atlantis beklemtoon en die ander partye in die twee wyke hier bloedneus geslaan.

Politieke partye het voor die verkiesing op 29 Mei op die DA se dienslewering hier gefokus, wat volgens hulle baie pateties is, maar inwoners het bewys hulle is tevrede met dienste wat gelewer word.

Dat daar groei onder kleiner partye is, is ongetwyfeld en die Patriotic Alliance (PA) het bewys dat die blou in die toekoms dalk na groen kan verander. Die party het in wyk 29 die tweede beste gevaar en 15,25% van die stemme hier gewen met die National Coloured Congress (NCC) derde met 6,91% en die ANC vierde met 5,75%. Die DA het in dié wyk egter bewys dat inwoners steeds vertroue in die blou span het deur 65,34% van die stemme op hom te verenig.

Wyk 32 is ook oorweldigend blou met die DA wat 46,45% van die stemme hier gewen het, met die ANC 18,86%, die PA 15,35% en die NCC 6,23%.

Kiesers het egter nie juis in groot getalle opgedaag nie en die statistieke bewys dit.

In wyk 32 is 21 262 geregistreerde kiesers van wie slegs 11 002 (51,74%) kiesers hier opgedaag het om hul kruisie te trek, terwyl net 10 254 (61,63%) van wyk 29 se 16 639 geregistreerde kiesers gaan stem het.

Baie politieke partye het voor die verkiesing geglo die DA sou nie die Wes-Kaap met ’n meerderheidstem wen nie.

Hoewel kleiner partye reeds voor die verkiesing die vure begin aansteek het om “die DA se val” te vier, het die party gefokus op wat die belangrikste was, en dit was om kiesers te oortuig dat hy wel die beste keuse is.

Kiesers by verskillende stemlokale het aan Weskus Nuus gesê hulle het kom stem om saam te praat indien die party van hul keuse nie hul beloftes gaan nakom nie. Een kieser het gesê indien jy nie gaan stem het nie, kan jy nie saampraat of kla oor dienslewering nie, en dan eerder “jou mond moet hou”, juis omdat daar geleentheid was om jou stem te laat hoor.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article