Die Atlantis- plaaslike netbalvereniging (APNV) het verlede Vrydagaand (1 Desember) sy jaarlikse bekeruitdeling in die Wesfleur-skoolsaal gehou om sportvroue te vereer.
Die gasspreker, Marlene Williams, ’n junior ontwikkelingsafrigter van die Kaapstad- en WP-netbalverenigings, het die spelers en gaste in haar toespraak daarop gewys dat Atlantis enorme talent het en op skole- en klubvlak ontwikkel moet word.
“Ek is baie bly om saam met die APNV te kan werk en veral saam met klubadministrateurs soos die voorsitter, Felicity Bailey, sowel as Maria Addison, Karen Arendse en Jacky Europa, om hierdie weggesteekte talent in Atlantis te ontwikkel,” het Williams gesê.
Volgens Williams word goeie ontwikkeling in Atlantis-netbal op skole- en klubvlak gedoen en sy is “baie bly” om dit te sien.
Twee spelers wat gewis die aandag by die WP- en Wes-Kaapse provinsiale netbalspanne getrek het, is Caren Human, wat haar plek oopgespeel het tot in die Wes-Kaap-netbal-skolespan. Human het nie net Atlantis trots gemaak nie, maar het gewis ook die WP- en ander provinsiale keurders se aandag met haar goeie spel getrek.
“ ’n Goeie toekoms wag gewis op Caren,” het Williams gesê.
Nog ’n jong speler wat die koppe laat draai het, is Micha van Zyl, ’n graad-10- leerder van die Hoërskool Robinvale. Sy het as ontwikkelingspeler ook die oog gevang en in die o.19-COCT-toernooi baie goed gevaar. Met die regte afrigting en ontwikkeling het sy gewys sy is ’n aanwins vir enige netbalspan.
Sy het die prys as Speler van die Jaar en die beste o.19-Erica-speler ontvang.
Williams het in haar toespraak bevestig met die samewerking van rolspelers soos die APNV en Atlantis Skole, is dit die enigste platform vir die sport wat deur WP-netbal erken word.
“Ek is trots op die spelers van APNV en sal alles in my vermoë doen om hierdie jong talent van Atlantis verder te ontwikkel.”
Sy het die ouers gevra om hul kinders te ondersteun wanneer hulle vir die verskillende netbalspanne van die provinsie gekies word.
“Wie weet, dalk lewer Atlantis dalk binnekort ’n nasionale speler of twee op,” het Williams gesê.





