Atlantis-gholfklub het Sondag 6 September sy maandelikse lede-toernooi op die Moorreesburg- gholfbaan gehou.
Dié toernooi is deel van die klub se voorbereiding vir die Rival-beker wat op 24 September tussen Mamre, Darling, Morning Star en Atlantis gespeel word.
Die toernooi is deur Shawn Conrad en sy maat Desmond November met 42 punte gewen. Dié twee moes ’n verbete aanslag van die pa-en-seun-span, Nicky en Nicquin Arendse, afweer wat met ’n enkele punteverskil (41) in die tweede plek geëindig het.
Liam Adonis van Atlantis-gholfklub speel tans die gholfbane in die junior kompetisies aan die brand. Dié kranige 15-jarige speler van Mamre het Sondag tydens die Strand se junior ope toernooi algeheel agtste geëindig. Daar was 82 gholfspelers.
Volgens Shawn Conrad, afrigter van die juniors, was die toernooi in nat en winderige toestande gespeel. Adonis, wat gereeld onder die top-10 in die junior kompetisies eindig, het op 30 Augustus ook negende in die Royal Cape-toernooi vir juniors geëindig en kon hy beter gevaar het as hy nie met drie houe gestraf was omdat hy sy bal van die verkeerde plek gespeel het nie.
Volgens Conrad kan ’n oorwinning in een van die laaste twee toernooie Adonis se vliegkaartjie na Amerika bespreek waar hy vir ’n maand verder afrigting gaan ontvang.
Quewin Botha en Nicquin Arendse vaar ook goed in die kompetisie en saam Adonis laat die trio Atlantis se vlag hoog wapper. Volgens Conrad het die groep tans geen oefengeriewe nie omdat die Stad Kaapstad se sportfasiliteite nog nie geopen het nie.


