Die eerste Atlantis Battleground-danskompetisie was ’n groot sukses en kan dalk ’n jaarlikse instelling word, het die organiseerder, die raadslid Allister Lightburn, gesê.
Volgens Lightburn het hy en sy kantoorassistent Elvina Mahoney met die danskompetisie vorendag gekom om Atlantis en omliggende gebiede se talentvolle dansers ’n platform te gee om hulself uit te leef en sodoende ’n positiewe leefstyl te kweek.
Die dansers het behoorlik gekook en die mededinging was goed, erken Lightburn. Die verskillende afdelings het ingesluit ’n solo-vrou-en mans, ’n duo-dans en ook ’n groep-dansafdeling. Daar is ook moontlikhede vir danskompetisies met die Mitchellsplain dansgemeenskap, vertel hy, maar meer besonderhede daaroor sal later bekendgemaak word. Lightburn wil graag die borge – Eat n Smile van Jose Henriques, Usen Jacobs van Quest Garage, Louis Absolom van Charmlu Builders en Ralph Africa van Eight Ball Pub bedank.





