Clayton Charles, draaibalbouler van die Baggy Blues, stuur een van sy aflewerings af.Foto:


Atlantis Baggy Blues is hard besig met voorbereiding vir die nuwe krieket­seisoen en is oorgehaal om 2021 goed te begin.

Weens die Covid-19-pandemie is al die ligas verkort en sal daar slegs eendagwedstryde gespeel word. Die Baggy Blues, wat verlede jaar promosie na die Afdeling 1B van die WP-krieketunie net-net gemis het, speel weer in 2021 in Afdeling 1C.

Saterdag het die Baggy Blues die gedugte Glamorgan van Elsies in sy eerste vriendskaplike wedstryd van die nuwe seisoen op Robinvale gepak.

Die tuisspan, wat eerste veldwerk gedoen het, het die besoekers tot 176 lopies beperk.

Freddie van Heerden (2/23) en Thorne Vigeland (2/25) het die beste met die bal vir die tuisspan gevaar. Tydon Slavers, met sy twee paaltjies vir 26 lopies, het ook moedig probeer, maar Clayton Charles (2/46) en Lwelynn Lackay (2/45) is behoorlik deur die besoekers gestraf. Die tuisspan se topkolwers sal vinnig hul voete moet vind aangesien die span se topses-kolwers slegs 35 lopies bymekaar kon skraap.

Justin Rooibaadjie (58) het met sy kapteinsbeurt moedig probeer en is teen die einde goed deur Thorne Vigeland (21) ondersteun. Die tuisspan is almal vir 143 lopies uitgehaal wat ’n oorwinning van 33 lopies aan die besoekers verseker het. Volgens die veelsydige speler, Rodger August, gaan baie van die jonger spelers afhang, veral die boulers. “In die vriendskaplike wedstryde sover was daar hopeloos te veel ekstras afgestaan,” meen August. Die kolwers het baie bestendig vertoon, en veral Jevon Cloete het beïndruk in die middelorde. Die ervare kolwers soos Justin Rooibaadjie, August en Kurt Julius sal weer sterk steun aan die span verleen.

Die eerste span het ook Saterdag 5 Desember te staan gekom teen die tweede span en die boulers het onder Jevon Cloete deurgeloop.

Cloete, wat ’n vegtersbeurt van 62 gespeel het, het die boulers laat les opsê en dit is bemoedigend vir die Baggy Blues.

Die Baggy Blues speel sy eerste eendagwedstryd op 16 Januarie 2021 teen Helderberg van die Strand en die vonke gaan behoorlik spat wanneer dié twee spanne mekaar die stryd gaan aansê op Robinvale-sportterrein.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article