Trane het Woensdag 20 Oktober vrylik gevloei toe die plaaslike ATKV-tak ’n bankie en boom ter ere van Charne Viljoen by haar grootouers se huis onthul het.
Volgens Elize Fortuin, streeksbestuurder van die ATKV, het hulle op die noodlottige dag ’n vergadering net ’n hanetree van waar sy vermoor is, gehad.
“Ek onthou haar noodkrete en ons het alles probeer om haar te ondersteun. Haar geroep om hulp gaan ons altyd bybly,” het ’n emosionele Fortuin aan familie, vriende en gemeenskapsleiers wat die seremonie bygewoon het, vertel.
“Daar was die dag so baie mense op die toneel, maar dit was net om te skinder, want hulle is nou nêrens te sien nie.”
Die plaaslike ATKV-tak het besluit om inwoners bewus te maak dat geslagsgeweld ’n werklikheid in die gemeenskap is.
Volgens dr. Marlene le Roux, voorsitter van die ATKV, moet ouers mans wat jaloers en besitlik voorkom, uit hul huise jaag. Dit is die begin van mishandeling, het sy aan die gehoor gesê.
Le Roux het, terwyl die trane vrylik vloei, gevra dat die verdagte “aan ’n klok opgehang moet word” sodat die gemeenskap kan weet wie die walglike dade doen. “Ouers moet die polisie bel as hul kinders hulself aan geslagsgeweld skuldig maak,” het sy gepleit, en bygevoeg: “Ons oorhandig vandag die orgideeblom aan die familie om Charne se lewe te onthou.”
Die 21-jarige Charne is vermoor nadat sy haar verhouding van vier jaar met haar seuntjie se pa beëindig het. Volgens ’n familielid kon die gewese kêrel dit nooit oor sy hart kry dat sy hom gelos en aangegaan het met haar lewe nie en het blykbaar besluit om haar te vermoor. Allister Lightburn, ’n raadslid wat ook een van die gaste was, het gesê dit voel steeds onwerklik wat met die familie gebeur het.
“Ek het gereeld na hul huis gegaan toe ek nog in die musiekbedryf was,” het hy verduidelik.
Lightburn het inwoners aangemoedig om nie kinders te beskerm wat hulself aan sulke gruweldade skuldig maak nie.





