Die ATKV-tak Atlantis, Blou Lellie van Belhar en ander ATKV-lede by die 2023-streekbyeenkoms vir takke in Stellenbosch.Foto: David Rossouw


“Hierdie land sal nie val nie, want dit is mense soos julle wat daarvoor sal sorg.”

Dit is die mening van Quinten Adams, ’n opvoedkundige sielkundige van Schack Builder.

Die Afrikaanse Taalkultuurvereniging (ATKV) het Saterdag (6 Mei) meer as 87 takke, insluitende Atlantis, in Stellenbosch by die ATKV-streekbyeenkoms verwelkom.

Die streekbestuurders Elize Fortuin en Almero Oosthuizen het die groep by die Root 44-sakekorf verwelkom.

Fortuin het takke geloof en aangemoedig om te volhard met die goeie projekte wat hulle namens die ATKV doen.

Die Afrikaanse Taalkultuurvereniging beywer hom vir meer as 93 jaar vir die Afrikaanse taal- en kultuur van Afrikaanssprekende gemeenskappe, asook nasiebou vir ’n suksesvolle Suid-Afrika.

Oosthuizen het op sy beurt takke uitgesonder vir hul toegewyde pogings en resultate wat hulle in hul gemeenskappe bereik het. “Dit voel wonderlik om voor kreatiewe mense te kan staan en dankie te sê vir alles wat julle en jul geliefdes vir die ATKV doen. Julle maak werklik ’n verskil in die ATKV, en terselfdertyd wil ek die goeie wense van die ATKV-direksie aan die takke oorgedra.”

Die trompetspeler Lawrence Felton het die byeenkoms geopen met die temalied “Give Thanks to the Lord” terwyl die Tiervlei-rieldansers gaste vermaak het.

Die ATKV se fokusprojekte vir 2023 is tuinbou en lees en die hoop bestaan dat lees kinders ’n beter toekoms sal bied.

Adams, die gasspreker by die geleentheid, is ’n gegradueerde opvoedkundige sielkundige navorser wat Schack Builder begin het, wat mense help om informele huise te bou. Hy het lede in sy toespraak aangemoedig en meen ten spyte van vele uitdagings sal Suid-Afrika “nie val met mense soos julle nie”. Volgens Adams is die infrastruktuur en kennis van ’n organisasie of sakeonderneming belangrik.

“Maar hoe kry jy dit as jy dit nie weet nie? Mense moet die nodige kundigheid geleer word voordat hulle iets kan doen, en daarom het ek die Schack Builder-inisiatief begin – om mense te leer om hul kennis uit te brei en hul vaardighede te verbreed.

“Jou kennis en kundigheid sal die finale resultate van jou eindproduk bepaal – daarom is dit belangrik dat jy dit moet hê. Dinge sal net gebeur as jy aksie neem, wat jou projekte sal transformeer en ’n invloed op mense se vaardighede sal hê. Daarom het jy nie geld nodig om iets te begin nie. Momentum en struktuur bepaal jou finale uitkoms, maar daarsonder sal jy misluk,” het Adams gesê.

Hy het afgesluit deur lede aan te moedig om nie toe te laat dat die berge groter is as hul kapasiteit nie.

Deon Meiring, ’n musikant, het die byeenkoms met pragtige Afrikaanse musiek afgesluit, waarna ’n smaaklike middagete bedien is voor almal huiswaarts gekeer het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article