Alan Winde (die Wes-Kaapse premier), Allister Lightburn, Moosa Raise en James Vos by die amptelike sooispit-seremonie vir fase een van die Asez se bouperseel. Foto: Murphy Roberts


Die wiel is aan die rol.

Die Atlantis- spesiale ekonomiese sone (Asez) se eerste fase is Maandag (5 Junie) amptelik deur verskeie hooggeplaastes geopen.

Die geleentheid is onder meer deur die Wes-Kaapse premier, Alan Winde; Mireille Wenger (provinsiale minister van finansies en ekonomiese ontwikkeling), James Vos (Kaapstadse burgemeesters­komiteelid vir ekonomiese groei) en die plaaslike wyksraadslede Allister Lightburn en Moosa Raise sowel as lede van die gemeenskap bygewoon.

Konstruksiewerk het reeds begin, wat beteken “die projek is ’n stap nader om ’n verskil in Atlantis te maak”, het Winde in sy toespraak gesê. “Die projek het ’n kritieke mylpaal bereik in ons gesamentlike strewe om die provinsie energiebestand te maak en sodoende ook ekonomiese geleenthede vir plaaslike inwoners te skep,” het die premier aan gaste gesê.

“Hierdie projek dra by tot die provinsie se groeiende vaardigheidsontwikkelings­vermoë, wat die sleutel is om mense met die noodsaaklike vaardighede wat nodig is om hulself, hul gesinne en hul gemeenskappe te bevoordeel, toe te rus.”

Winde het al die rolspelers wat die mylpaal moontlik gemaak het, bedank en almal aangemoedig om nog meer in te sit: “Kom ons bou nou hierop voort om te verseker Atlantis se volle potensiaal word in die belang van al sy inwoners ten volle verwesenlik,” het Winde afgesluit.

Wenger het op haar beurt gesê met die geweldige potensiaal van die groenekonomie sowel as die dringende nood vir krag is die plaaslike ontwikkeling net wat nodig is. Sy meen werkskepping is wat nodig is, en die ontwikkeling is deel van die nuwe ekonomiese groeistrategie, “Growth for Jobs”.

Volgens Wenger is die Asez met sy groentegnologie, uitvoer-georiën­teerde vervaardigingspunt en geweldige potensiaal in groenvervaardigingsgeleenthede ’n belangrike deel van die regering se groentegnologieplan.

Vos sê die Stad is trots om deel te wees van ’n inisiatief wat sal help om aan die metro en provinsie se bestaande en toekomstige energiebehoeftes te voldoen.

Volgens Matt Cullinan, die uitvoerende hoof van die Asez, maak die projek en die Asez reeds ’n verskil en kan dit verder net verbeter. “Deur hande te vat met samewerking tussen al die rolspelers en die gemeenskap kan sukses verseker word,” het hy gesê.

Die plaaslike raadslede Allister Lightburn en Moosa Raise sê hulle is opgewonde vir die vooruitsig van die projek.

Die eerste drie plaaslike kontrakteurs is reeds aangewys terwyl een sy projek voltooi het en die tweede nog besig is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article