Die Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, dr. Ivan Meyer, het tydens sy onlangse besoek aan die Atlantis- spesiale ekonomiese s (Asez) gesê “deur samewerking in verskillende sektore word ’n stewige fondasie vir ekonomiese vooruitgang in die Wes-Kaap gelê”.
Die minister het sy besoek begin met ’n aandeelhouersvergadering by die Asez-kantoor, wat belanghebbendes bymekaar gebring het om die sone se vordering en toekomstige groeivooruitsigte te bespreek. Volgens Matt Cullinan, uitvoerende hoof van die Asez, was die Asez se rol in die bevordering van groentegnologie, werkskepping en die bevordering van vennootskappe met plaaslike en internasionale beleggers van die besprekingspunte.
Die besoek het ook ’n toer van sone 1, die aanvanklike fase van die Asez se nywerheidsuitbreiding, ingesluit. Sone 1 is gereed om ’n spilpunt vir groentegnologie-vervaardiging te word, wat kritieke infrastruktuur verskaf vir ondernemings wat hernubare energie-oplossings dryf en skoner produksieprosesse en hulpbron-doeltreffendheid verseker..
Meyer het tydens die besoek aan Mint en Honey, wat voedsame kos vervaardig, gesê hy is beïndruk met die verbintenis tot plaaslike indiensneming en die gebruik van hulpbronne tot hul voordeel.
“Die Asez bly daartoe verbind om met die regering en nywerhede saam te werk om te verseker dat sy sone 1 ’n katalisator word vir volhoubare nywerheidsaktiwiteite, terwyl dit terselfdertyd geleenthede aan die Atlantis-gemeenskap bied,” sê Cullinan.





