Die adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging, Andrew Whitfield, het tydens sy onlangse besoek hier gesê hy is tevrede en beïndruk met die vordering van die Atlantis- spesiale ekonomiese sone (Asez) in fase een.
Whitfield, wat met die uitvoerende bestuur van die Asez hier vergader het, het ook gesê – nadat hy die konstruksieperseel besoek het – dat die geld wat deur sy departement beskikbaar gestel is, goed aangewend word. “Die bestuur het my beïndruk met hul voorlegging vir verdere finansiering van hul planne,” het hy erken.
Whitfield het die bestuur verseker dat sy departement verbind is om ekonomiese sones te ondersteun. Hy het ook beklemtoon dat alle vlakke van regering moet saamwerk om ’n sukses van die Atlantis-projek te maak en hulle is om dié rede gretig om met die Stad Kaapstad en die provinsiale regering saam te werk om ’n sukses van die Asez te maak.
“Ek is baie beïndruk dat die span van die Atlantis- spesiale ekonomiese sone tydens hul voorlegging veral klem lê op gemeenskap-integrasie,” het hy gesê.
“Die Asez het ’n geïntegreerde ekostelsel-ontwikkelingsmodel ingestel, wat gemeenskapsintegrasie, vaardigheidsontwikkeling en ondernemingsontwikkeling behels. Die doelwit is om te verseker dat die Asez ’n positiewe en betekenisvolle uitwerking op die lewe van die gemeenskappe rondom dit wat belangrik is vir die sukses van die projek, het,” het Whitfield erken.
“Dit is ’n groot deel van die departement se verantwoordelikheid vir inklusiewe ekonomiese groei en wat ons by die Atlantis- spesiale ekonomiese sone gesien het, is nie net vernuwende groentegnologieprodukte vir uitvoer na internasionale markte nie, maar ook die insluiting van plaaslike gemeenskappe, vaardigheidsontwikkeling en die bemagtiging van vroue om ongelooflike belangrike funksies in hierdie ondernemings te verrig,” het hy gesê. “Dit het ons nie net beïndruk nie, maar ek is oortuig daarvan dat die departement sal voortgaan om in die toekoms baie nou met die Asez saam te werk,” het Whitfield gesê.
Die uitvoerende hoof van die Asez, Matthew Cullinan, het ook sy tevredenheid uitgespreek oor die adjunkminister se besoek en het gesê dit bied ’n spesiale geleentheid om hom te wys wat die Asez in ’n kort tydjie bereik het.
“Ons verhouding met die departement is deurslaggewend vir die sukses van die Asez en ons werk baie nou saam met die nasionale regering,” het Cullinan bygevoeg. “Die adjunkminister se besoek is baie bemoedigend en sy ondersteuning gee ons baie hoop vir die nuwe planne vir die volgende 12 maande.”


