“Dit is nie altyd maklik vir ouers om ’n huishouding te onderhou nie – veral as hulle glad nie ’n inkomste het nie. Wat sê jy vir ’n kind as hy vra vir brood, maar daar is nie geld om dit te koop nie?”
Dit is die stryd waarmee ma Elizabeth Grotetjie* sit.
“Met wat vul jy ’n kindermagie in die oggend as trane van die honger oor hul wange rol? Baie ouers worstel hiermee en soms dan draai ons die rug, stap weg en hoop vir die beste,” verduidelik Grotetjie.
Dit is dus vir gesinne soos dié van Grotetjie dat die Smile-produksie-orkes, in samewerking met die Atlantis-polisie en ander gemeenskapsorganisasies, hulle beywer om ’n verskil te maak.
Saam bied hulle hulp aan behoeftiges wat moed opgee weens hul ekonomiese omstandighede en tekortkominge.
Wilfred Smile, ’n sersant by die Atlantis-polisiekantoor, sê baie mense wil nie erken hulle is behoeftig nie.
“Hulle is te skaam en trots, en dit is waarom my groep persoonlik navorsing doen om vertroud te raak met omstandighede van plaaslike gesinne of families. Ons het juis die Dassenberg-nedersetting en haweloses wat in kartonskuilings slaap, ‘aangeneem’ om sodoende te help om hul omstandighede te verbeter,” sê Smile.
“Ons werk in noue kontak saam met die polisie,” sê hy.
Volgens Smile streef die Smile-produksie-orkes daarna om mense in Atlantis, Mamre, Pella, Witsand en die Dassenberg-nedersetting se sosiale lewensomstandighede te verbeter deur kos, klere, opvoeding en musiek aan hulle te verskaf.
“Ons het nie baie om te gee nie, maar die bietjie wat ons gee, maak regtig ’n verskil in hierdie mense se lewe en ons kan sien hulle waardeer dit regtig elke keer as ons hulle besoek,” het Smile gesê.
* skuilnaam





