As dit pap reën, moet ’n mens skep, sê plaaslike kleinondernemings wat onlangs tydens werksessies vir hul ondernemings uitgevind het watter geleenthede tans beskikbaar is.
Peter Stoffberg is deur die Atlantis- spesiale ekonomiese sone (Asez) aangestel om toe te sien dat plaaslike kleinondernemings aan al die vereistes voldoen om sake met hulle te doen. Byna 90% van sakelui wat die jongste sessie bygewoon het, was vroue.
Volgens Stoffberg is dit baie belangrik om daarop te let dat elke konstruksiemaatskappy wat aan ’n projek ter waarde van meer as R30 000 bou of werk, moet by die Konstruksie-bedryf-ontwikkelingsraad (CIDB) geregistreer wees om wettiglik te mag sake doen.
Konstruksiemaatskappye moet vir ’n gradering aansoek doen om vir ’n staatstender van R30 000 of meer in aanmerking te kom. ’n Maatskappy wat ’n gradering van een het, kan aanspraak maak op tenders onder R500 000, verduidelik hy.
Die werksessie se hoofdoel was om te verduidelik en duidelikheid te gee oor hoe die bedryf werk en veral die verskillende graderings te verduidelik – veral die “potensieel opkomende (PE) status”.
Die werksessies het ook huidige uitdagings en kwessies uitgewys waarmee kontrakteurs en subkontrakteurs daagliks sukkel, verduidelik Stoffberg.
Die meeste van die deelnemers was ondernemings in die besit van vroue van die Atlantis-, Mamre- en Witsand-omgewing.
Stoffberg het egter gal gebraak en gesê dit was teleurstellend dat van die sessies baie swak bygewoon is deur plaaslike ondernemings, wat nie hierdie geleentheid benut het om hul bedryfskennis uit te brei en meer inligting te kry oor hoe om hul onderneming by CIDB te registreer nie, veral in die lig van die verwagte oplewing in die konstruksiebedryf wat in die Atlantis-nywerheidsgebied in sone 1 van die spesiale ekonomiese sone deur die Atlantis Special Economic Zone Company (Asezco) ontwikkel word.
Volgens Donanne September, een van die plaaslike sakelui, was dit een geleentheid vir plaaslike ondernemings om hul huis in orde te kry. “Ons mense kla elke dag oor geleenthede, maar wil nie hul huis in orde kry nie,” meen sy. September sê met dié houdings gaan baie kleinondernemings nog vir lank aan die agterspeen suig.
Latasha Laban van Yadon Holding sê die werksessies is presies wat haar onderneming nodig het omdat meer gevestigde sakelui nie graag inligting deel nie. “Die kennis en inligting wat ek hier gekry het, kan my onderneming net tot nuwe hoogtes neem.”
Ronelda Biggs van Yenzobuhle Consulting het ook die broodnodige inligting ter harte geneem. “Dit is presies wat ons nodig het.”
Stoffberg se Stoffberg Holdings is die aangestelde onderneming onder kontrak aan Asezco om plaaslike sakelui by te staan met nakomingsaansoeke om te verseker hulle kom in aanmerking vir toekomstige tenders en verkrygingsgeleenthede van Asez. Hy help onder meer met die registrasie van ondernemings, hernuwing en indiening van jaarlikse opgawes, BEE-sertifikate, belastingklaring-sertifikate, CSD, Cioda ens.
Stoffberg kan by 073 845 5878 gekontak word.





