Alkohol is vrylik en wyd beskikbaar. Boonop word dit in die meeste gevalle as ’n sosiaal aanvaarbare middel beskou.

Skakel die televisie of radio aan en jy word oorval met advertensie ná adver­tensie wat die nuutste alkoholiese drankie bekendstel. In die meeste gevalle word alkohol nie as ’n gevaarlike middel beskou nie.

Dit is gewoonlik eers wanneer ’n persoon ernstige skade en verliese gely het dat alkoholmisbruik as ’n probleem beskou word.

Alkoholmisbruik het ’n negatiewe impak op alle gebiede van die samelewing. Op individuele vlak kan langtermynalkoholmisbruik verslawing, hoë bloeddruk, skade aan organe, geheueverlies en ’n wye reeks ander gesondheidsprobleme veroorsaak.

Dit kan tot probleme in verhoudings, veral in terme van die gesin veroorsaak. ’n Persoon wat aan verslawing ly, mag meer aggressief as gewoonlik optree. Dit kan tot konflik en gesinsgeweld aanleiding gee.

Alkoholverslawing kan veroorsaak dat die persoon met die verslawing én van die gesinslede werk misloop. Dit kan dus ’n negatiewe invloed op die persoon se beroep hê, wat weer finansiële probleme kan veroorsaak. Verslawing kan beteken alkohol word bo alles geprioritiseer, selfs verantwoordelikhede, soos om rekeninge te betaal.

Alkohol speel ook ’n rol in die verlaging van inhibisies wat veroorsaak dat ’n persoon só optree soos wat hy nie gewoonlik sal doen nie. ’n Voorbeeld hiervan is riskante seksuele gedrag.

Hierdie is slegs ’n druppel in die emmer wanneer dit by die alkohol­misbruik kom.

. Vir nog inligting oor alkoholverslawing en waar jy hulp kan kry, skakel die Cape Town Drug Counselling Centre in Atlantis by 021 571 71 80.

Anders maak ’n draai by die kantoor in die Drosdy-gebou, oorkant die plaaslike hof in Wesfleur-sirkel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article