Klara Hartzenburg met ’n foto van haar dogter Alexa (5) wat noodlottig in die kop geskiet is.Foto: Nico Wagenstroom


“My kind kon ander se lewens met haar organe red.”

Só sê Klara Hartzenberg (35) van Gullhaven Court in die Dura-woonstelle nadat haar vyfjarige dogter doodgeskiet is.

Die klein Alexa Hartzenburg is twee dae ná haar verjaardag op Nuwejaars­dag in die kop geskiet toe sy as ’n menslike skild gebruik is.

Volgens Klara het hulle op Nuwe­jaarsaand by familie in die Dura-woonstelle gekuier toe dié voorval plaasgevind het.

“Ek het by die ander grootmense gesit en die kinders het almal buite gespeel. Toe klap die skote en mense begin gil en skreeu,” onthou sy.

Vier onbekende mans het glo skielik op ’n man in die straat begin skiet. “Die man het my kind gegryp om homself te beskerm. Sy is twee keer in die kop getref. Die skieters het een doel voor oë gehad en dit was om die man dood te maak,” het Klara hartseer gesê.

Benewens die kind het die skieters ook ’n vrou (34) raakgeskiet. Sy het op die toneel aan haar wonde beswyk terwyl die man, wat die teiken was, ook gewond is.

Volgens Klara was haar kind reeds breindood toe hulle by die hospitaal aankom en dus het sy die volgende dag besluit Alexa se dood kan ander mense ’n tweede geleentheid gee.

Al Alexa se organe is geskenk en Klara meen dit het haar baie beter laat voel omdat sy weet dit is wat haar kind sou wou hê.

Volgens kapt. Cyril Dicks, Atlantis-polisiewoordvoerder, het die polisie vier verdagtes aangekeer. “Hulle is tans in aanhouding in verband met die saak.” Die verdagtes sal op aanklagte van moord, poging tot moord en vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article