Reddingswerkwers haal beseerdes uit die wrak.

Murphy Roberts

Altesaam agt mense het vanoggend (Maandag 26 Oktober) hul lewe in ‘n taxi-ongeluk verloor.

Na bewering was die taxibestuurder laat om die werkers by hul werk in Melkbosstrand af te laai toe een van die minibus se bande gebars het en die bestuurder beheer oor die taxi verloor het.

Dié gru-ongeluk het omstreeks 08:00 op die M19 op pad na Melkbosstrand plaasgevind toe die oorlaaide taxi met 20 passasiers beheer verloor het en reg van voor teen ‘n motor gebots het.

Die bestuurder van die motor is ook op slag dood en moes uit die wrak gesny word en sewe van die passasiers het ook op die toneel gesterf. Mediese personeel het hul hande vol gehad om die beseerdes by te staan en 10 ander passasiers is ernstig beseer en met ’n helikopter na verskeie hospitale geneem.

Volgens ’n polisiebron word die taxibestuurder onder polisiebewaking in ’n hospitaal behandel en staar ‘n klag van strafbare manslag in die gesig. Die bron vertel ook dat die bestuurder wel ‘n rybewys het, maar het nie ’n permit om passasiers te vervoer nie.

Volgens kapt. FC van Wyk moet die oorledenes nog geïdentifiseer word en die vermoede bestaan dat almal dalk van Dunoon kan wees.

Volgens Van Wyk ondersoek die polisie ‘n klag van strafbare manslag. Volgens die bron is die bestuurder van die motor vermoedelik van die Weskus-omgewing en dit is onduidelik waarheen hy op pad was.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article