John Jeffery, die adjunkminister van justisie, en sy afvaardiging het terugvoering aan die gemeenskap oor hul eise gegee. Foto: Murphy Roberts


John Jeffery, die adjunkminister van justisie, het sy kop in ongeloof geskud en sy amptenare opdrag gegee om ’n volledige verslag oor Atlantis-hof so gou as moontlik aan hom te verskaf.

Jeffery het Atlantis Woensdag (8 Desember) besoek om inwoners terugvoering te gee oor ’n memorandum wat Donderdag 25 November aan afgevaardigdes van sy kantoor oorhandig is.

Dié memorandum van gemeenskapslede het geëis dat twee landdroste onmiddellik verwyder moet word “of die gemeenskap doen dit self”.

Volgens Jeffery gaan hy die kontrak-landdros, wat borg aan vermeende skieters gegee het, se kontrak bestudeer. Weskus Nuus het intussen vertroulik verneem dié landdros se kontrak is kort ná die vergadering beëindig.

Volgens die gemeenskap is die ander landdros ’n “sekspes” nadat dit aan die lig gekom het interne klagtes is teen dié landdros aangemeld.

Jeffery sê ’n proses moet gevolg word indien hulle sou kies om dié tweede landdros te verwyder, aangesien slegs die Wes-Kaapse hooflanddros verplasings kan goedkeur.

Janine Passenz van die Survivors Haven Foundation, wat die memorandum oorhandig het, het gal gebraak en aan die minister verduidelik geen prosesse is gevolg om die landdros “hier te dump totdat dinge afgekoel het waar hy die dade gepleeg het” nie. Volgens Passenz het die vermeende oortredings by die Malmesbury- en Darling-hof plaasgevind. Sy wou by die minister weet of hy weet van die vermeende ongerymdhede by die plaaslike hof. Volgens Passenz is ’n aanklaer skuldig bevind in verband met ’n pornografie-saak, is meer as ’n halfmiljoen rand by die hof gesteel, bandopnames het verdwyn en nog ’n aanklaer is glo met dwelms betrap.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article